Polisielede op die toneel waar ’n vrou se naakte lyk agter die Hartebeeskraal-veeldoelige sentrum in Sherwood Park gevind is. Foto: Murphy Roberts


Die polisie en forensiese deskundiges krap steeds kop oor wat die oorsaak van dood was van ’n vrou wat onlangs in Sherwood Park gevind is.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, is die vrou se lyk Donderdag 4 Maart agter die Hartebeeskraal-veeldoelige sentrum gevind. Die naakte lyk het tot vele vrae gelei met omstanders op die toneel wat aan Weskus Nuus gesê hulle ken die vrou van geen kant af nie.

“Kru gerugte op sosiale media dat die vrou wreed verkrag is en ’n stok in haar agterkant gehad het, is van alle waarheid ontbloot,” sê Munro.

Volgens Munro kon die lykskouing nog nie die oorsaak van dood bepaal nie.

Sy het verduidelik die oorledene het geen ooglopende of sigbare merke gehad nie. Dit is ook in hierdie stadium nog onbekend of sy moontlik verkrag is.

Volgens Munro het deskundiges verskillende toetse gedoen om die identiteit van die oorledene te bepaal. Die oorledene is vermoedelik in haar 30’s en haar lyk is die oggend deur verbygangers gevind.

’n Moorddossier is voorlopig geopen en geen verdagtes is nog aangekeer nie.

Gerugte dat die vrou van Mitchells Plain is en ’n familiepartytjie bygewoon het, en dat drie verdagtes – onder wie ’n gewese kêrel – aangekeer is, is ook onwaar, het Munro bevestig.

Gerugte dat die onbekende vrou se huidige kêrel dood is en sy lyk in Mamre ontdek is, is ook onwaar, sê Munro.

Enigeen met inligting word gevra om sers. Anthony Booysen by 021 571 8500 te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article