Dit gons behoorlik in regskringe nadat ’n senior regsgeleerde van die Strand onmiddellik van die bank verwyder en reeds aangekla is vir verkragting terwyl ’n voormalige waarnemende senior hofbeampte van Atlantis steeds op die bank sit.
“Dit is duidelik dat daar vleis van die een en vis van ander gemaak word,” het ’n regsgeleerde aan Weskus Nuus gesê. Die klagtes oor seksuele wangedrag teen die voormalige waarnemende senior hofbeampte is reeds byna drie jaar gelede in Malmesbury aangemeld en reeds ondersoek, maar die betrokkene is nog nie aangekla nie.
Dit is wat regsgeleerdes nou erg onthuts laat en baie bespiegel of teen velkleur gediskrimineer word.
Volgens vertroulike inligting is die ondersoek deur ’n landdros afgehandel en het hy aanbevelings aan die landdros- etiese komitee voorgelê, wat dit weer op hul beurt aan die landdroskommissie voorgelê het.
Die aanbeveling was dat die vermeende verdagte intern aangekla moet word.
Byna twee jaar sedert die ondersoek afgehandel is het Weskus Nuus vertroulik verneem dat die groot dag aangebreek het en die tugverhoor begin in Mei.
Die Atlantis-hof is reeds ’n geruime tyd onder die vergrootglas en van die oortredings hier is ’n voormalige hoofaanklaer wat met pornografie betrap en skuldig bevind is.
Nog ander misdade by die Atlantis-hof is “papgeld” wat verdwyn het, bandopnames wat verdwyn het, ’n senior amptenaar wat aangekeer is vir die besit van dwelms en bewerings van verkragting.





