Die 13-jarige Nicole Williams droom nou groot en beplan om die beste van haar kanse te maak.

Nicole, ’n voormalige leerder van Saxon Sea Primêr en kranige hekkiesatleet, bevind haar nou by Hoërskool Stellenbosch en is deel van Endurocad Akademie.

Die Akademie, onder leiding van die voormalige Olimpiese silwermedaljewenner Elana Meyer, het nog ander groot name in die atletiekwêreld in sy hoekie. Volgens Nicole se trotse ouers het hulle by haar vorige skool gehoor van die program en haar afrigter het die nodige aanmoediging gedoen.

Volgens Delishia en Denzil Pretorius is hul dogter baie opgewonde oor haar nuwe vooruitsigte en sy kan nie haar voormalige afrigter, Denzil Appels, genoeg bedank vir wat hy vir haar loopbaan beteken het nie.

Delishia sê haar dogter het reeds verlede jaar in September in Malmesbury aan proewe deelgeneem vir die beurs waar 38 leerders gekies is om later in Stellenbosch aan die finale proewe deel te neem.

Die finale groep, bestaande uit 20 leerders, wat ’n volle beurs by Hoërskool Stellenbosch verdien het, is in Oktober aangekondig en Nicole het byna deur die dak gespring toe haar naam uitgelees word. Harde werk wag nou op haar en Nicole het in ’n boodskap aan Weskus Nuus gesê sy wil nou eers op haar atletiekloopbaan fokus, maar droom reeds “van ’n Olimpiese goue medalje en om die beste hekkiesatleet te wees”.

Die Akademie is gestig om atlete te identifiseer en nodige bystand te verleen sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik.

Ander voormalige topatlete wat betrokke is, is Josiah Thugwane en Zola Budd. Atlete van die akademie wat sukses behaal, is Dominque Scott en Christine Kalmer (Olimpiese Spele in Rio in 2016), Mari Rabi (Olimpiese Spele in Bejing in 2008), Landie Greyling (beste SA naelloopatleet), Vicky van der Merwe (SA driekamp-atleet) en Nolene Conrad (IAAF- goue wapen-atleet).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article