Amateursportkodes het toestemming van hul onderskeie beheerliggame ontvang en mag nou fisieke oefeninge doen, maar moet Covid-19 veiligheidsriglyne volg.
Vir plaaslike krieket is die seisoen neusie verby, want alle amptelike kompetisies is reeds deur die WP-krieket vereniging afgelas.
“Nog net vier weke van die amptelike seisoen bly oor en dit is nie voordelig vir klubs nie, want hulle het niks om voor te speel nie, sê Rodger August, voorsitter van Atlantis-krieketklub.
Volgens August kan hulle nie veel doen nie, maar begin nou al beplan aan die nuwe seisoen wat in September begin.
“Die virus het ook ’n groot uitwerking op toekomstige ontwikkeling, want jong talent gaan verlore weens die veiligheidsregulasies,” sê August.
“Dit veroorsaak dat seuns en meisies weens die uitwerking wat dit op sport het, nie meer daarin belangstel om sport te beoefen nie.”
’n Swaard hang ook oor die kop van rugby en sokker, wat die grootste wintersportkodes is, want spelers kan steeds nie oefen soos gewoonlik nie. Dit is steeds nie ’n uitgemaakte saak hoe kompetisies beslis sal word nie.
Plaaslike owerhede blyk nie die blaam te wil dra as enigiets Covid-19-verwant met die sportklubs se lede gebeur gedurende oefening of die gebruik van die fasiliteite nie.
Baie klubs kan weens die hoë kostes daaraan verbonde nie die nodige persoonlike beskermende toerusting aanskaf nie. Aan die ander kant het die koronavirus-inperking ook sy voordele, want dit het spelers genoeg tyd gegee om te kondisioneer en afrigters kon nuwe strategiese planne uitwerk, meen sommige.
Volgens kommunikasies wat deur die Boland- en WP-rugbyunies aan klublede gestuur is, sal die eerste vier weke van die seisoen gebruik word vir fiksheidsoefeninge, gevolg deur vier weke se kontakoefeninge.
Voor spelers egter amptelik na die veld vir kompetisies sal kan terugkeer, sal die onderskeie unies weer met die regering vergader.
Teen druktyd het die Atlantis-sokkervereniging Maandag 22 Februarie by die Robinvale-sportkompleks met klubs vergader, om te bepaal hoe hulle verder sokker gaan speel.



