Die Atlantis-netbalvereniging (ANV) het onlangs geskiedenis gemaak toe dié vereniging vier WP-spelers opge­lewer het.

Twee van die spelers, Granita Jansen en Shanice Danicke, is ook as ontwikkelingspelers geïdentifiseer. Hulle sal volgende jaar in die nasio­nale o.19-netbalspan se proewe deel­neem.

Volgens Felicity Bailey (voorsitter) en Maria Addison (afrigter), is dit die heel eerste keer dat spelers van dié vereniging in aanmerking kom vir die SA span. Natasha van der Host en Jezmoné Klaaste, albei verdedigers, maak die plaaslike WP-spelers voltallig. Die bestuurspan meen dit is ’n groot prestasie vir plaaslike netbal.

Ten spyte van die Covid-19-inper­kings het die spelers kop gehou en hul proewe suksesvol in September voltooi.

Volgens Addison was dit ’n moeilike proses vir die vroue omdat daar steeds beperkings op amateur­sport is.

“Ek het nie geweet of hulle dit sal maak nie, want hulle het baie teenstand onder­vind,” meen sy.

Addison sê dit is wonderlik om te sien die ontwikkeling wat die afgelope paar jaar ingeploeg is, werp vrugte af.

“Netbal, wat een van die kleiner sportkodes in Atlantis is, kan nou as ’n baie goeie vertoonvenster vir die jeug voorgehou word, veral omdat die vier jong spelers uit woonbuurte kom waar misdaad hoogty vier, maar steeds is hulle bereid om hulle drome te volg,” verduidelik Addison.

“Met verdere ontwikkeling in die toekoms kan hierdie spelers net ver­be­ter met die hoop dat hulle eendag ons land op internasionale vlak sal verteenwoordig,” het Bailey bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article