Kathy Petersen (72) is woedend nadat sy deur “uitlanders” uit haar huis geswendel is.
Kathy vertel haar probleme het begin toe sy haar motorhuis aan ’n Ethiopiër verhuur het om ’n winkel te bedryf.
Volgens haar seun Alvin Petersen het nog ’n Ethiopiër eendag in die winkel gekom, wat baie soos die winkeleienaar lyk. “Hy het pamflette uitgedeel en my gevra om na sy kantoor te kom, want hy kan ‘voel’ iets is nie reg by die huis nie.”
Die familie sê die uitlanders het hulle meegedeel die huis moes verkoop word omdat dit op ’n voormalige begraafplaas gebou is.
“Ons was baie geskok omdat die man ons oortuig het, en die winkeleienaar het onmiddellik aangebied om die huis te koop.
“Die toordokter het alles in sy vermoë gedoen en het ons rondgery na prokureurs om die kontrak te onderteken. Hy was baie desperaat en het gesê sodra die geld in is, moet hulle dit onmiddellik bring sodat dit skoongemaak kan word. Daar is baie duiwels in die huis.
“Ons het hom vertrou omdat ons altyd snaakse geluide gehoor het,” vertel die ma en seun. Kathy sê wat vir haar baie snaaks is, is dat die geld in haar seun se rekening betaal is, maar die huis is in haar naam en sy wou weet hoekom die geld nie in haar rekening betaal is nie. “Die skurke het altyd ’n verskoning gehad,” vertel sy.
Volgens Alvin het hulle ook presies geweet wanneer die geld inbetaal is en wou nie hê hy moes die geld oorbetaal nie. “Die man het ons persoonlik kom optel, want so moes die geld in Tableview getrek word.”
Volgens Alvin was dit beslis nie die eerste keer dat hulle so iets doen nie, want op pad bank toe kon die sangoma reeds verduidelik dat hy elke keer ’n ander kaart moes vat om al die geld op een dag te trek.
Dit het glo 23 kaarte geneem om die R230 000 te trek. “Ons moes die geld in ’n rugsak sit. Ons is reguit na die sangoma se kantoor, waar die geld oorhandig is. Ons is twee boksies melk gegee om onder die bed te sit, wat al die geeste in die huis sou vang. Ons moes die melk die volgende dag terugbring, dan is die geld ook skoon.”
Die sangoma en geld het intussen spoorloos verdwyn en die twee sit nou elk met ’n boksie melk.
Volgens Delamrie Solomons, ’n gemeenskapsleier in Proteapark, het sy die twee by haar ingeneem totdat ’n oplossing gevind kan word. Volgens Alvin het die verdagte sangoma reeds in die hof verskyn, maar die saak is van die rol gehaal oor ’n tekort aan bewyse.





