“As dit van ons afhang, sal die nuwe stortingsterrein nooit goedgekeur word nie.”

Dít was die sentiment van drie wyksraadslede in subraad 1.

Inwoners van Atlantis, Melkbos en Duynefontein braak behoorlik gal nadat dit bekend geword het dat ’n Franse maatskappy giftige afval hier wil stort.

Paul Swart, die wyksraadslid vir Melkbos, verduidelik geen aansoek is nog deur die Stad ontvang nie omdat die Franse maatskappy eers die nodige permitte van die nasionale en provinsiale regerings moet kry. Volgens Swart, wie se wyk die naaste aan die beoogde stortingsterrein is, is hulle wel bewus van die planne en berei hul gemeenskappe voor “dat dit nooit goedgekeur moet word nie”, sê hy.

Volgens die raadslede is hulle nie ingelig oor al die soort afvalmateriaal wat daar gestort sal word nie omdat die voorlegging nie baie besonderhede daaroor verskaf nie. Dit opsigself maak hulle baie agterdogtig. Die inligting­sessies met gemeenskappe die afgelope paar weke het ook die meeste van die inwoners in subraad 1 erg onthuts gehad, bevestig hulle. Volgens dié drie het die Franse maatskappy gesê hy het geen voorneme om giftige afval in te voer nie, maar wat kommerwekkend is, is die feit dat hulle bevestig het dat die nabygeleë spoorlyn baie belangrik vir hulle is. Die raadslede het egter bevestig dat hulle die gemeenskappe bystaan en ondersteun dat die beoogde terrein nooit goedgekeur moet word nie.

Volgens Moosa Raise, die wyksraadslid vir wyk 32, is hy baie bekommerd oor die impak wat dit op Atlantis se natuur en waterbronne sal hê. “Hoekom Atlantis met sy baie natuurbronne?” wou hy weet, en sê die ongeveer 50 werksgeleenthede beteken nie baie vergelyke met die skade aan die gebied se hulpbronne nie. Moosa het ook bevestig dat hy sy gemeenskap aanmoedig om nie die terrein te ondersteun nie.

Volgen Allister Lightburn, die subraad 1-voorsitter en wyk 29-raadslid, word die nuwe stortingsterrein vanaf dag een nie deur die subraad ondersteun nie. Lightburn het hom ook sterk uitgelaat teen dié wat hom van dubbele standaarde beskuldig. “Ek het in geen vergadering enige ondersteuning vir die projek gegee en weer in ’n ander vergadering daarteen gepraat nie,” gee hy uitklaring.

“Subraad 1 is in sy geheel gekant teen die nuwe planne en ondersteun die verskillende gemeenskappe.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article