’n Young Hearts-speler probeer die verdediging van Langebaan oopvlek in die twee spanne se naelbyt-riller op die grafkelder. Foto: Murphy Roberts


Young Hearts het Langebaan Saterdag op die grafkelder in sy voorlaaste wedstryd in ’n wipplank-stryd met 27-25 geklop nadat die tuisspan rustyd 12-10 voor was.

Langebaan het reeds in die vyfde minuut van die wedstryd die tuisspan hande op die heupe onder die pale laat staan met ’n verdoelde drie. Die tuisspan het egter daarna met ’n onverdoelde drie geantwoord om die agterstand na slegs twee punte te laat krimp. Met beide spanne wat daarna die bal wyd gespeel het, het nie een van hulle dit egter in punte omgeskep nie.

Die besoekers, wat in die eerste helfte met die wind van agter in die skrums gesukkel het, kon ook nie hul lynstaan-balbesit behou nie. Young Hearts het egter kort voor rustyd die neus vir die eerste keer voor gekry ná ’n verdoelde drie. Die tuisspan het die tweede helfte met ’n warrelwind begin en gou sy voorsprong met nog ’n verdoelde drie vergroot. Met die telling 19-10 in die tuisspan se guns het Young Hearts-ondersteuners reeds begin juig en baie het gedink dat die besoekers ’n rugbyles geleer gaan word.

Langebaan het egter met sy kanniedoodhouding geweier om tou op te gooi. Langebaan, wat sy ondersteuners op die gepaste wyse wou bedank vir hul ondersteuning die seisoen, het die grafkelder daarna met aanvallende rugby doodstil gespeel.

Beide spanne het egter die een aanval na die ander afgestuur en slegs goeie verdediging en hanteerfoute het omgekeerde besit verseker.

Langebaan het weer die neus voor gekry en met die telling 24-25 in die besoekers se guns het die span se swak dissipline goeie rugby ongedaan gemaak en die tuisspan kon sy bonuspuntoorwinning verseker.

Young Hearts se troepe het egter nie teleurgestel met aanvallende rugby nie en moet nog Vredenburg se Burg Boys later vandeesmaand op die grafkelder onthaal.

Mamre sal eers oor twee weke weet of hy die streekkampioen is en moet nog teen die geskorste St. Helenabaai speel.

Die groen truie van Kenny Stadler moet volpunte kry om die Weskus-kampioen te word terwyl Saldanha reeds sy ligaverpligtinge voltooi het. Dié twee spanne sal ook die Weskusstreek in die top-12 verteenwoordig tensy Boland anders besluit. . Atlantis het Saterdag in ’n wegwedstryd Wistling Wheels van Eersterivier 19-20 geklop. Atlantis moet sy volgende tuiswedstryd teen Titans van Grassy Park wen om sy tweede plek op die rooster te behou om ook sodoende sy bevordering na Super Liga C te verseker. . Uitslae: Vredenburg 22-16 Hopefield, Young Hearts 27-25 Langebaan, Piketberg 25-21 Koringberg en Paternoster 20-11 Velddrif

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article