Gertruida Lombaard (49), oftewel “Aunty Koekie”, soos sy plaaslik bekendstaan, gaan van 23 tot 31 Maart haar buiging by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn maak.

Aunty Koekie, oorspronklik van Loeriesfontein in die Noord-Kaap, vertel opgewonde dit is reeds vir jare haar droom om haar riel-talent aan die wêreld te wys. “Een ding is vir seker – ek moet my nog gereeld knyp om seker te maak ek droom nie,” vertel sy.

Aunty Koekie, wat ook gereeld by ATKV-geleenthede optree en haar eie riel-liedjies skryf, vertel sy het onlangs by die bekendstelling van die boek Oerlied in Stellenbosch een van die liedjies in die boek, “Jeug aarde juig” met haar riel-ritme uitgevoer.

“My droom het op 4 Februarie vanjaar waar geword toe een van die organiseerders van ’n televisieprogram Geraas in Afrikaans, wat dalk in Junie uitgesaai sal word, my gevra het of ek dalk belangstel om na die KKNK te gaan.

“Dit was glad nie ’n moeilike besluit nie en ek het net daar ja gesê,” vertel sy.

“My musiek inspireer nie net jong mense en opkomende musikante nie, maar dra ook ’n boodskap oor van taal en kultuur,” vertel Aunty Koekie trots. Dat die senuwees knaag, is nie altemit nie,” erken sy.

“Om voor soveel mense my ding te kan doen, is dalk net wat ek nodig het,” vertel die liedjieskrywer en een van Atlantis se eerstes wat by die KKNK sal optree.

Volgens Aunty Koekie verkies sy om haar eie liedjies te skryf en te sing omdat dit meer oorspronklik is en haar ook reeds verskeie kompetisies laat wen het. “Ek het sedert 2010 verskeie titels vir die beste riel-liedjie gewen en was al beste musikant by riel-kompetisies,” vertel sy trots. “My taal, my kultuur maak my trots.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article