Dr. Nomafrench Mbombo het hulde aan Mr. Waggie gebring.Foto: Murphy Roberts


“Ek het hom nie geken nie, maar ek het geweet wie hy is.”

Só het dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, Donderdag (2 Junie) tydens die blomme-verbyry van Nico Wagenstroom, oftewel Mr. Waggie, gesê.

Mbombo, die nuwe politieke hoof van die gebied, het die familie vertroos. “Ek het eers gehoor wie hy is toe die raadslede dit genoem het.”

Mr. Waggie was die voorsitter van wyk 29 se DA-tak tydens sy skielike dood Sondag (29 Mei).

“Ons is nie hier vir politiek nie, maar vir Mr. Waggie, omdat hy nie net ’n voorsitter was nie, maar ’n alles-in-een. Dankie, mama, dat jy hom aan ons en sy gemeenskap geleen het,” het Mbombo aan Brenda Wagenstroom gesê.

“As weduwee ken en verstaan ek jul pyn. Mense kom en gaan, en tydens hul dood registreer jy nie, maar sodra alles verby is, dan tref dit die hardste,” het Mbombo gesê. “Huil jul harte uit, want net die Here kan die pyn wegneem.”

Mr. Waggie is Saterdag (4 Junie) begrawe nadat hy die laaste twee maande in en uit die hospitaal was.

Sprekers wat hulde aan dié gemeenskapsleier gebring het, was onder meer Wessie van der Westhuizen (subraad 1-bestuurder), Allister Lightburn (wyksraadslid) en Danny Pietersen (president van die Atlantis-rotariërs).

Die diens is deur die burgemeesterskomiteelede Grand Twigg en Malusi Booi, asook die subraad 1-voorsitter Nicky Rheeder, bygewoon.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article