John Nico Wagenstroom, of Mr. Waggie, soos almal hom geken het, was baie passievol oor sy groentetuin en het sy oeste aan behoeftiges uitgedeel. Foto: Verskaf


John Nico Wagenstroom was ’n lojale Rotariër, gemeenskapsmens en vryskutfotograaf en sal veral onthou word vir sy puik groentetuin.

Wagenstroom. of Mr. Waggie (65) soos hy alom bekendgestaan het, is Sondagaand in die Wesfleur-hospitaal dood nadat hy die afgelope twee maande in en uit die hospitaal was. Met Weskus Nuus se besoek Donderdagaand aan Waggie het hy gekla oor dinge “wat nie reg is nie” en klagtes wat hy oor dienslewering in sy wyk ingedien het.

Wagenstroom was ’n medewerker en vriend van Weskus Nuus en het gereeld plaaslike geleenthede vir die koerant as vryskutfotograaf gedek.

Mr. Waggie was ook ’n lojale Rotariër wat by verskillende projekte betrokke was, en een van sy groot liefdes was om soggens seker te maak leerders kom veilig by die skool aan.

Hy het ook gereeld soggens vrugte aan leerders uitgedeel.

Tuinmaak was een van sy geliefde stokperdjies en hy het sy tuisgekweekte groente aan behoeftige inwoners uitgedeel. Hy was net eenvoudig iemand wat nie kon toesien dat iemand honger gaan slaap nie en sou eerder sy bord of laaste happie kos aan so iemand gee.

Danny Pietersen, president van Atlantis Rotariërs, het Sondagaand die tyding van Waggie se dood oorgedra.

Begrafnisreëlings was teen druktyd nog onbekend, maar hy sal waarskynlik Saterdag begrawe word, het ’n familielid gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article