In die Suid-Afrikaanse geskiedenis is baie huldeblyke vir dapper dade van helde, maar baie min word oor heldinne gesê.
Nasionale Jeugdag – 16 Junie – is ’n simbool van die weerstand van die jeug teen die wreedheid van die destydse apartheidsregering en vereer jongmense in die 1976-Soweto-opstand in Suid-Afrika.
Ná ’n afwesigheid van drie jaar het Morawiërs Sondag 20 Augustus reg oor die wêreld Susannah Kuhnel as ’n heldin vereer. Sy het as ’n jong meisie – op 11-jarige ouderdom – op 17 Augustus 1727 in Herrnhut, Duitsland, tot bekering gekom.
Vandag staan dit bekend as “kinderfees” en word dit wêreldwyd gevier – die naaste Sondag aan 17 Augustus – vir Susannah, wat in ’n hewige geestelike stryd weens haar ma se dood was. Sy het kort daarna tot bekering gekom om uiteindelik vrede te maak.
Lidmate van die Morawiese kerk in Atlantis en Mamre, ouers en gaste is getrakteer met optredes uit Susannah se tydperk deur stories, vertellings en optredes.
Tonele uit Susannah se tydperk is deur kinders van Atlantis uitgebeeld, wat ouers en gaste hier en daar ’n traan of twee laat stort het.
Die uitbeelding van Johann Kuhnel (Susannah se pa), Christian David (die leraar van die Herrnhut-gemeente), Graaff von Zinzendorf (wat die grond beskikbaar gestel het), en die gemeentelede Melchior Nitchmann en Christoph Model, het die oog gevang dat toegewyde Christene hul kinders in die vrees van die Here sou grootmaak.
Vandag in Herrnhut is dit duidelik gemerk met ’n kopstuk vir besoekers en toeriste om te sien waar die oorblyfsels van hierdie heldin van die Evangelie ter ruste gelê is.
Baie Morawiese kerke in die wêreld vier hierdie dag met ’n spesiale diens vir kinders sowel as koorsang, toneelstukke en versierings in die kerk.
Kinders is by die fees op die tradisionele manier met bolletjiesbeskuit onthaal, wat baie ná die opvoerings en storievertellings gesê het vir hulle die hoogtepunt was.





