November is Diabetesbewustheidsmaand en ’n gulde geleentheid om uit te vind of jy die gevaar loop om hierdie ernstige siekte te ontwikkel.
’n Mens het diabetes wanneer die pankreas nie meer in staat is om insulien te maak nie, of as die liggaam die insulien wat hy het, nie goed benut nie.
Insulien is ’n hormoon wat deur die pankreas vervaardig word. Dit skep die glukose in voedsel wat ons eet in energie om. As ’n mens nie insulien kan maak of dit doeltreffend kan gebruik nie, lei dit tot verhoogde glukosevlakke in die bloed.
Diabetes is nie kinderspeletjies nie
Iets soos “ligte” diabetes bestaan nie. Diabetes is altyd ernstig. As dit nie behandel word nie, of nie goed bestuur word nie, kan die hoë bloedglukose-vlakke wat met diabetes verbind word die fyn senuwees sowel as die klein en groot bloedvate in die liggaam stadig beskadig.
’n Eenvoudige vingerpriktoets by jou plaaslike apteek of kliniek kan binne ’n minuut bepaal of jy diabetes het.
Die volgende simptome kan moontlik ’n aanduiding van diabetes wees:
Gereelde urinering, oormatige dors, verhoogde honger, ongewone gewigsverlies, moegheid, gebrek aan belangstelling en konsentrasie, versteurde visie, gereelde of herhalende infeksies, snye en kneusplekke wat stadig genees, warm vel wat jeuk, tinteling en gevoelloosheid in die hande of voete sowel as braking en maagpyn (wat dikwels as simptome van griep beskou kan word).
Wanneer ’n diabeteslyer nie behandel word nie, kan dit tot ’n
verskeidenheid komplikasies lei:
Hartsiekte, blindheid, amputasie, depressie, angs en nood, nierversaking en erektiele disfunksie (impotensie).
Die goeie nuus is dat hierdie komplikasies met noukeurige hantering vertraag en selfs voorkom kan word, maar dat ’n vroeë diagnose en gereelde toetsing van bloedglukose baie belangrik is.
Glukose-monitering en waar om die toerusting te kry
Glukose-monitering is ’n eenvoudige glukosetoets wat tuis met ’n glukosemonitor (bekend as ’n glukometer) gedoen kan word.
Alle toonaangewende apteke verkoop hierdie meters en weggooi-toetsstrokies.
Praat met jou dokter of mediese verskaffer, aangesien baie ondernemings hierdie toestelle gratis aanbied.
Verskillende soorte diabetes:
Tipe 1-diabetes kom voor wanneer die pankreas ophou om insulien te vervaardig.
Dit begin gewoonlik by jong mense onder 30 jaar oud, insluitend baie jong kinders en babas, en die aanvang is skielik en dramaties.
Mense wat tipe 1-diabetes het, moet insulien inspuit om te oorleef. Dosisse word noukeurig gebalanseer met voedselinname en oefenprogramme.
Tipe 2-diabetes
word veroorsaak wanneer die insulien, wat die pankreas vervaardig, óf nie genoeg is nie, óf nie doeltreffend werk nie. Ongeveer 85 tot 90% van alle mense met diabetes het tipe 2-diabetes, en baie mense wat aan hierdie toestand ly, is nog nie gediagnoseer nie.
Swangerskapsdiabetes is ’n tydelike toestand wat met swangerskap voorkom. Die ma sowel as haar ongebore baba het ook ’n groter gevaar om in die toekoms diabetes te ontwikkel.
Behandeling
Om aan diabetes te ly, beteken nie die einde van ’n gewone, gesonde lewe nie. Mense met diabetes moet eers aanvaar dat hulle daaraan ly en dan leer hoe om dit te bestuur. Dit neem toewyding en vasberadenheid.
Die doel van diabetesbestuur is om bloedglukosevlakke binne die normale omvang te bring, wat tussen 4-6 mmol per liter is.
Goeie diabetesbestuur behels verskillende aspekte, waaronder opvoeding oor die siektetoestand, gesonde eetgewoontes, gereelde oefening, gewigsbestuur, medikasie en leefstylbestuur.
Laasgenoemde sluit stresbestuur in en leefstylkeuses soos om op te hou rook.
’n Gesonde gewig kan verkry en gehandhaaf word deur gesonde eetgewoontes te volg.
’n Eetplan kan met ’n geregistreerde dieetkundige bespreek word.
Besoek jou naaste kliniek, daghospitaal of apteek vir nog inligting.
Bron: Wes-Kaapse departement van gesondheid


