Inwoners van wyk 32 maak gereed om hul wyk iets vir die oog te maak en het nie geskroom om hul hande vuil te maak nie. Foto: Verskaf


Inwoners van wyk 32 onder leiding van die wyksraadslid Moosa Raise, het besluit hulle is moeg vir die morsigheid in die gebied.

Volgens Raise het hy ná gesprekke met inwoners van die gebied begin met beplanning om die wyk iets vir die oog te maak. “Ons het besluit om by die Dura-woonstelle te begin, en ek moet sê die verbasing was groot weens die hoeveelheid mense wat opgedaag het.

“Ons moet eers die hand in eie boesem steek voordat ons kan oordeel. Inwoners is keelvol vir die gemors in die gebied.”

Die raadslid sê hy is opgewonde oor die gretigheid van inwoners en het besluit om die skoonmaakoperasie na ander gebiede in die wyk te neem.

Raise daag inwoners uit om sy hand in die proses te help versterk en het inwoners aangemoedig om nie net op hom te wag nie. “Inwoners in wyk 32 is welkom om hul eie gebiede te identifiseer en kan met my skakel vir ondersteuning. Kom ons baan die weg vir ’n skoner Atlantis!

“Ek sal graag wil sien wie gaan my eerste kontak vir skoonmaakoperasies,” sê Raise.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article