Suid-Afrika se algehele moordsyfer het dalk effens gedaal, maar verkragtings- en kontakmisdade neem toe, met meer vroue en kinders wat in die eerste kwartaal van die 2024-’25-boekjaar vermoor en seksueel aangerand is teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.
Volgens polisie-misdaadstatistieke wat Vrydag 30 Augustus vrygestel is, het kontakmisdade, wat moord, roof, seksuele misdrywe en aanranding insluit, met 2,6% tot 153 657 voorvalle in die eerste kwartaal van die nuwe boekjaar van April tot Junie 2024 teenoor dieselfde tydperk in 2023 toegeneem.
Moord alleen het egter met 0,5% tot 6 198 gedaal. Seksuele misdrywe het met 0,4% afgeneem tot 11 566. Vier van die land se nege provinsies het stygings in moordsake getoon, met die hoogste in die Wes-Kaap, gevolg deur Noordwes, die Oos-Kaap en Limpopo. Die top-30-polisiekantore wat moord betref, was in die Wes-Kaap (11), KwaZulu-Natal (8), Oos-Kaap (6) en Gauteng (5). Die voorste was Nyanga, gevolg deur Inanda, Umlazi, Khayelitsha en Harare.
Die wapen wat die meeste gebruik is om moorde te pleeg, was vuurwapens, veral in KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap, Gauteng en die Oos-Kaap, gevolg deur messe en ander skerp voorwerpe.
Moord op vroue het gedurende die eerste kwartaal met 7,9% tot 966 toegeneem, terwyl poging tot moord met 16% tot 1 644 gestyg het, en aanranding met 69% tot 13 757. Moord op kinders het met 7,2% tot 314 gestyg, poging tot moord met 19,8% tot 424 en aanranding met 11,5% tot 1 596 voorvalle.
Seksuele misdrywe het in die algemeen met 0,4% afgeneem tot 11 566, maar verkragting het met 0,6% tot 9 309 gestyg, met die meeste daarvan in Gauteng (1 921), KwaZulu-Natal (1 895), die Oos-Kaap (1 466) en die Wes-Kaap (1 037).
Altesaam 91 verkragtings en 12 moorde is by opvoedkundige fasiliteite aangemeld, waaronder skole, universiteite, kolleges en dagsorg-fasiliteite oor die land heen, waarvan 74 verkragtings en nege moorde op skoolpersele plaasgevind het, hoewel nie al die slagoffers leerders was nie.
Van die 3 494 ontvoerings wat aangemeld is, het misdadigers in 135 gevalle ’n losprys geëis, terwyl 30 as afpersing en agt as mensehandel geïdentifiseer is, het die polisie se misdaad-registrateur, genl.maj. Thulare Sekhukhune, tydens die vrystelling van die syfers gesê.
kapings, rooftogte daal effens
Motorkaping en roof by residensiële en nie-residensiële persele het met 2,7% tot 15 230 afgeneem. Altesaam 5 438 motorkapings, 5 642 residensiële rooftogte en 4 151 nie-residensiële rooftogte is aangemeld.
Die aantal geld-in-transito-sake het met 24% tot 36 gedaal, terwyl vragmotorkapings met 70% tot 429 voorvalle gedaal het.
Senzo Mchunu, die minister van polisie, het gesê hierdie statistieke vertel ’n “wrede storie” oor die erns van die probleme waarmee die land te doen het.
“Hierdie getalle verteenwoordig meer as net syfers op papier – dit weerspieël die werklikheid van ons inwoners, hul vrese, hul verliese en hul hoop op ’n veiliger môre. Die data is ’n sterk herinnering aan die dringende behoefte aan optrede,” het hy gesê.
“Ons word gekonfronteer met ’n krisis wat die veiligheid van ons gemeenskappe bedreig en die stabiliteit van ons nasie ondermyn. Veral kontakmisdade saai verwoesting en boesem vrees in. Dit is onaanvaarbaar, en ons moet hierdie uitdaging met onwrikbare vasberadenheid en strategiese akkuraatheid konfronteer,” het die minister gesê.
Mchunu het gesê die mees kommerwekkende misdade is moord, verkragting, kaping, ontvoering vir losprysbetalings en afpersing. Die ministerie se prioriteite sluit in die “nommer-een-prioriteit” om misdaadvlakke te verlaag, die professionalisering van die polisiediens en ontworteling van korrupsie, belegging in tegnologie en kapasiteit van die misdaadintelligensie-eenheid om beter insigte en strategiese voordele in die stryd teen misdaadnetwerke te bied.
Die minister het belowe om met ander departemente – soos die departement van maatskaplike ontwikkeling, justisie, korrektiewe dienste en basiese onderwys – saam te werk in die bekamping van misdaad.
“Ons sal nie rus totdat elke Suid-Afrikaner sonder vrees in die strate kan loop nie,” het die minister afgesluit.

