Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het Dinsdag 15 Oktober sy misdaadbekampingsplan vir die provinsie in die Saxonsea-gemeenskapsaal met meer as 300 inwoners gedeel.
Volgens die premier sal dit een van die duurste uitgawes wees vir dié provinsie en beoog hy om R1 miljard in die eerste jaar uit te gee.
Hy sê voorts 3 000 wetstoepassers sal opgelei word met 150 van hulle wat ondersoekbeamptes sal wees om te help met die samestelling van dossiere. Volgens die premier is die plan onmiddellik van krag met opleiding van die eerste 1 000 wat eersdaags sal begin.
“Die Stad Kaapstad is ’n belangrike vennoot en sal die opleiding aan die wetstoepassers verskaf,” het hy gesê.
Winde sê ’n toetslopie is reeds in een van die bendegeteisterde gebiede gedoen waar moord algemeen voorkom en meen dit was ’n reusesukses en sal die provinsie se moordsyfer oor 10 jaar met die helfte minder maak.
Winde het inwoners verseker dat die provinsiale regering nie gaan terugsit en kyk hoe veral geweldsmisdaad gemeenskappe in vrees laat leef en niks daaraan doen nie, siende die polisiediens “ ’n tekort aan hulpbronne het”.
Hy het ook verseker dat elke minister in sy kabinet gaan bydrae tot die sukses van dié plan. Volgens Winde is dit belangrik om kinders, ouers en gemeenskappe te bemagtig om nie geweld te gebruik nie en is die plan om na al die komponente van veiliger gemeenskappe te kyk.
Veiligheid van skole sal voorkeur geniet en die opgradering van infrastruktuur en die implementering van programme wat daarop gemik is om geweld by skole te verminder en waardes by leerders te vestig, sal ook aandag geniet.
Die premier het belowe om oor die volgende 12 maande te verseker dat 8 000 van die kinders wat die meeste kwetsbaar vir geweld is – veral seuns – toegang het tot inisiatiewe om hulle smiddae besig te hou.
Winde het bygevoeg die tyd vir praatjies is verby. “Dis tyd vir aksie en optrede.”





