Hulle is disrespekvol en gee nie om vir die land se wette nie.
Só het Allister Lightburn, die subraad-1-voorsitter, Woensdag 4 Desember gal gebraak toe hier op spazawinkels wat veral aan buitelanders behoort, toegeslaan is.
Die gesamentlike optrede deur die polisie, munisipale wetstoepassers, die Stad Kaapstad se departement van gesondheid en vervalste goedere, subraad 1 en die raadslid Lightburn, het veral klem gelê op kosprodukte wat reeds verval het, nagemaakte produkte en die wettigheid van winkeleienaars, het Lightburn bevestig.
Terwyl katte en muise wegkruipertjie in winkels speel, het amptenare verskeie winkels gevra om te sluit totdat hulle aan die vereistes voldoen.
Winkeleienaars het hulle egter min daaraan gesteur en minute later weer hul deure geopen, wat amptenare behoorlik erg onthuts gehad het. Amptenare het egter daarna ’n strenger houding ingeneem en eienaars gewaarsku teen permanente sluiting. Winkeleienaars is ook ingelig oor hoe om aan die vereistes te voldoen en dié wat nie hul nodige dokumente kon verskaf nie omdat hulle steeds daarvoor wag, is gewaarsku dat alle dokumente met hul volgende besoek teenwoordig moet wees.
Volgens Lightburn kon diegene wat nie hul dokumente byderhand gehad het nie, nie net in hegtenis geneem word nie omdat amptenare van immigrasie en binnelandse sake nie teenwoordig was om bewerings te bevestig dat hulle vir dokumentasie wag nie.
Volgens kapt. Shaun Smith, wat die optrede gelei het, is niemand in hegtenis geneem nie en geen boetes is uitgereik nie. Volgens Smith het amptenare wel verskeie inspeksieverslae waaraan winkeleienaars moet voldoen, uitgereik. Smith het gesê hierdie soort optredes gaan gewis meer in die nabye toekoms gedoen word en het ook verseker dat immigrasie wel volgende keer teenwoordig sal wees om veral buitelanders se dokumente na te gaan.
Amptenare het wel op vooraf verpakte en onwettige produkte beslag gelê terwyl eienaars gevra is om kosprodukte wat reeds verval het van die rakke te verwyder.


