Mei se Let’s Play-wenner, die 11-jarige Dwayne Minnies, was verlede jaar ook een van die sterre by Weskus Nuus se eerste Let’s Play-toekenningsaand.
Hy is tans die land se beste 80 m- en 100 m-naelloopatleet, na hy goud gewen het in beide nommers by vanjaar se Suid-Afrikaanse Primêre Skole-kampioenskap, wat Maart in Potchefstroom gehou is.
Die Wes-Kaapaflosspan, waarvan hy deel is, het ook hulle afdeling gewen.
Dwayne is ook ’n kranige rugby- en sokkerspeler en het vanjaar vir die WP uitgedraf. Hy vestig die meeste van sy aandag op atletiek en hy oefen vier dae per week saam met sy afrigter, Tashwell Adams, by Wesfleurpark. Hy spesialiseer in die 100 m, maar is baie trots op die feit dat hy net goud van die champs of champs tot die nasionale kampioenskap gewen het.
Dwayne speel sokker vir Jomos Power se junior span en is deel van die Saxonsea Primêr se o. 11-rugbyspan. Hy het die afgelope seisoen ook meer as 30 drieë vir sy span gedruk.
Volgende jaar word die nasionale kampioenskap in Paarl gehou en Dwayne sê sy grootste uitdaging is om nie net sy titels te behou nie, maar om ook die nasionale rekord te verbeter. Skoolwerk is vir die talentvolle sportman net so belangrik, hy glo daar moet ’n balans wees tussen die twee en met wiskunde as sy gunstelingvak, is hy ook ’n slimkop. Hy wil graag eendag ’n professionele atleet wees, maar wil ook graag vlieënier word.





