Met ’n jaar wat gekom en gegaan het is die helfte van die plaaslike gemeenskap se eise nog nie aangespreek nie.

Dit is volgens Dean Goliath, wat tydens die besoek van die Wes-Kaapse minister van gesondheid, Dr. Nomafrench Mbombo, gal gebraak het. Goliath is lid van die plaaslike taakspan wat die gemeenskap se belange in hierdie saak verteenwoordig.

Mbombo het die twee plaaslike klinieke Dinsdag 22 Augustus besoek wat binnekort van die Stad Kaapstad na die provinsiale regering oorgedra gaan word. Die gemeenskap van Atlantis het verlede Augustus ’n memorandum aan die minister oorhandig met eise na aanleiding van die vlak van diens wat ontvang is. Van die eise was dat die minister se departement alle klinieke in die gebied by die Stad Kaapstad moet oorneem om dienslewering te verbeter. Hulle het ook gevra die hospitaal se raad moet bedank en vervang word en Atlantis moet dringend ’n nuwe hospitaal kry om aan die groeiende gemeenskap se mediese vereistes te voldoen.

“Gesprekke rakende die nuwe hospitaal moet dadelik begin. Ambulansdienste moet dringend bekyk word aangesien inwoners ure moet wag op ’n ambulans wat lewens kan red. Die Pella-kliniek, wat slegs een dag oop is, moet daagliks oopgestel word en die Atlantis-hospitaal moet dringend nog personeel kry om dienslewering te verbeter. Klinieke se dienste moet nie beperk word nie en kontrakwerkers moet onmiddellik uitgeskakel en permanente lede moet aangestel word,” het die memorandum gestipuleer.

Mbombo het Dinsdag terugvoering oor die status van die oordrag gegee, maar baie was glad nie beïndruk met haar verslag nie. Mbombo het gesê die twee klinieke is gereed om deur haar departement oorgeneem te word, maar weens logistieke situasies sal dit eers in die nuwe jaar afgehandel word.

Mbombo het ook bevestig die hospitaalraad is reeds ontbind en aansoeke vir lede van die nuwe raad is beskikbaar. Nuwe poste by die klinieke word ook reeds geadverteer. Lede van die plaaslike taakspan was egter nie baie gelukkig nie en sê die minister het net kom sê wat hulle reeds weet.

Volgens Goliath moet die bou van die hospitaal hoog op die minister se agenda wees, omdat inwoner-getalle daagliks styg. Mbombo het die taakspan verseker gesprekke met plaaslike lede sal binnekort gevoer word.

Die plaaslike taakspan blyk ook nie op goeie voet te wees nie en dreig om uitmekaar te val nadat National Coloured Congress (NCC) leier Fadiel Adams op sosiale media verkondig het dit is danksy sy party se harde werk dat Atlantis se gesondheidsdiens verbeter. Lede van die taakspan wat aan ander politieke partye behoort het reeds op sosiale media aangekondig dat hulle “klaar is” met die proses omdat politiek nooit hierby betrokke was. Goliath het aan die Weskus Nuus gesê ’n regstelling sal gedoen word wat die taakspan betref, maar teen druktyd is geen verklaring nog uitgereik nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article