Inwoners van Atlantis eis dat dienste dadelik verbeter moet word.Foto: Murphy Roberts


Die Wesfleur-hospitaal was in Mei en Junie die vierde besigste hospitaal in die provinsie.

Dr. Earl Meyer, hoof van die hospitaal, sê die drie ander besige hospitale – Paarl, George en Mitchell’s Plain – is groter as Atlantis, en daarom is die plaaslike gemeenskap se eise nie onregverdig nie.

Meyer het Dinsdag 16 Augustus met die Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, dr. Nomafrench Mbombo, met haar besoek aan die hospitaal vergader. Die minister se besoek was deel van haar plan om dienste in die provinsie te verbeter.

Honderde inwoners het egter na die Atlantis-hospitaal opgeruk en ’n memorandum aan die minister oorhandig oor die swak diens wat inwoners van die gebied kry. Verskillende politieke partye en gemeenskapsorganisasies het kragte saamgesnoer om ’n duidelike boodskap aan die minister te stuur. Raadslede van verskillende partye het ook hul gewig agter die gemeenskap gegooi.

Anastasia Davids, ’n raadslid van die CCC, was woedend omdat die proses om dienslewering by die hospitaal te verskerp, so lank neem en sê probleme moes al lankal opgelos gewees het.

Allister Lightburn, raadslid van die wyk waarin die hospitaal val, het ook gal gebraak en gesê indien die media nie by die vergadering welkom is nie, wou hy ook nie deel van die proses wees nie.

Die saga by Wesfleur-hospitaal het verdiep toe die gemeenskapsaktivis Joshua Swarts se lewensmaat, Harriet Michaels, op Jeugdag dood is. Sy het glo agt ure gewag om behandeling te kry. Swarts blameer die hospitaal vir haar dood en het gesê die hospitaal het sy geliefde “vermoor”. Vreedsame betogings het daarna daagliks gevolg en Swarts het hom sedert Michaels se dood beywer om diens by die hospitaal te laat verbeter.

Volgens Swarts se organisasie, Atlantis-gemeenskapsgesondheidsorganisasie, sal hulle nie ophou totdat dienste verbeter en die minister gehoor aan hul eise gee nie.

Mbombo het gesê dit is die regering en inwoners se plig om saam hande te vat en ’n stelsel te bou wat vir almal werk.

Dean Golliath, wat die memorandum aan die minister oorhandig het, het gesê terugvoer moet binne sewe dae gegee word. Hy sê dit moet ’n daadwerklike plan vir die hospitaal insluit.

Die groep eis onder meer die minister se departement moet alle klinieke in die gebied van die Stad Kaapstad oorneem om dienslewering te verbeter; die hospitaal se raad moet onmiddellik afgedank word en Atlantis moet ’n nuwe hospitaal kry om met die uitbreiding van die gebied by te hou. Ander eise sluit die ambulansdienste in. Inwoners kla dié mediese personeel neem ure om by noodgevalle op te daag. Klagtes oor die Pella-kliniek, wat glo slegs een dag ’n week oop is, is ook ingedien. Mbombo en haar departement het gister (Maandag) met die afvaardiging van die gemeenskap vergader om terugvoering te gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article