Hulle het sy moord deeglik beplan en nadat hulle hom nie kon kry nie, het hulle hom na sy dood gelok deur ’n bekende aan die familie.

Dit is die teorie oor Donavan Miggel (31), wat op Vrydag 30 Junie in Lystersingel afgemaai is. Volgens sy vriende is hy deur sy moordenaar “ingewag”.

Volgens inwoners van die gebied is hulle nou keelvol vir die moorde en sê hulle hoop dat geregtigheid sal geskied. Ses mans het Donderdag 20 Julie in die Atlantis-hof vir Miggel se dood verskyn en sal weer op 26 Julie verskyn vir hul borgtogaansoek.

Een van die verdagtes is Andrew Hendricks, wat voorheen twee keer van moord vrygespreek is.

Volgens ’n betroubare bron het Miggel en sy broer die aand van sy dood by die vuur gesit toe ’n vrou, wat aan hulle bekend is, opgedaag het. Blykbaar het sy hom gevra om gou saam met haar na ’n vriend te gaan. Die bron vertel die oorledene se broer het egter agterdogtig geraak en agterna gehardloop.

Die bron vertel voorts dit was egter reeds te laat, aangesien die moordenaars Miggel reeds geskiet het.

Miggel was ’n sleutelgetuie in ’n dubbele moord in hierdie gebied, ongeveer twee jaar gelede.

Volgens een van Miggel se vriende, wat uit vrees nie hul naam genoem wil hê nie, het die moordenaars verskeie kere probeer om Miggel by te kom, maar kon voor vandeesmaand nie die daad pleeg nie omdat hulle nie ’n geskikte geleentheid vir so ’n aanval kon kry nie.

Die vriend het gesê sy moordenaars het hom al agtervolg en ingewag wanneer hy van die werk kom en het ook self probeer om in die huis te kom.

Die bron het ook verklap die ses mans gaan ingevolge die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca) aangekla word.

Die bron sê die vrou wat Miggel “na sy dood gelei het”, het reeds ’n bekentenis afgelê.

Die getuie is intussen in die getuiebeskermingsprogram geplaas.

Volgens die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad kan ’n getuie amnestie kry vir hom / haar aandeel in die misdaad indien die hof bevind die getuienis is geloofwaardig.

Inwoners sê hulle hoop dat die Poca-wet ’n einde aan die skietery in dié gebied en Atlantis kan bring.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article