Die Metro-noord-oos-onderwysdistrik se gekombineerde sokkerspanne het by die pas afgelope sokkertoernooi vir primêre en sekondêre skole, wat op die Queensburgh-terrein in Durban in KwaZulu-Natal beslis is, baie goed gevaar deur eerste, tweede en derde in hul onderskeie afdelings te eindig.
Sewe verteenwoordigende spanne – o.13 (x2), o.15 (x2), o.16, o.17 en o.19 – het die Metro-noord-onderwysdistrik by die toernooi verteenwoordig en baie goed gevaar, sê Gary Markus, die spanbestuurder, en Antonio Michaels (toer-koördineerder).
Die toernooi is die jaarlikse hoogtepunte vir skolesokkerspanne van die Metro-noord-onderwysdistrik en word deur Antonio Michaels (Blackheath Hoërskool-skoolhoof), ’n voormalige sportkoördineerder by die Hoërskool Robinvale die afgelope vyf jaar, gereël.
Die toer, wat baie goed deur verskeie provinsie se skole ondersteun is, is nie net ’n sportbyeenkoms nie, maar word ook gebruik om horisonne vir leerders te verbreed sodat hulle teen ander leerders van die verskillende provinsies kan meeding en ook om met ander sportkulture in aanraking te kom.
Die verteenwoordigende spanne is ’n kombinasie van die Metro-noord-en-oos-onderwysdistrikte se spanne en ondergaan ’n ses weke lange intensiewe proefwedstryd-tydperk by verskillende skole voordat die finale toergroepe deur die keurders gekies word.
Atlantis-skole wat deel van die Metro-noord is, het ook heelwat spelers vir die verskillende spanne opgelewer.
Markus en Michaels sê hulle is baie tevrede met die spanne se prestasie sowel as die dissipline wat die spelers tydens die toernooi gehandhaaf het. Die o.13- en o.15-spanne het in feeswedstryde gespeel en volgens die ligapuntestand tweede en derde geëindig.
Die o.16- en o.17-spanne het in die o.19-afdeling gespeel en is in die halfeindronde en plaatfinaal uitgeskakel. Die o.19-span het seker gemaak dat hulle die beker Kaap toe bring nadat hulle KwaZulu-Natal met 2-0 in die eindstryd geklop het.
Twee spelers is ná die toernooi in ’n uitnodigingspan opgeneem, wat later teen ander uitnodigingspanne kragte gaan meet. Die toernooi, wat elke jaar die hoogtepunt van fees- en uitklopsokker deur die verskillende onderwysdistrikte van verskillende provinsies ten toon stel, het weer eens gewys dat sokker op skolevlak baie goed ontwikkel en administreer word.


