Inwoners staan soos sardientjies in ’n blik gedruk en wou niks hoor van sosiale afstand. Foto: Murphy Roberts


Terwyl gevalle van Covid-19 in Atlantis skerp styg, blyk dit dat vele hulle nie aan die regulasies van veilige afstand steur nie.

Die onlangse toestroming na Sassa-kantoor vir die heraansoek van ongeskiktheidstoelaes, het beteken dat mense soos sardientjies in ’n blik naby mekaar gestaan het – dít ten spyte van pleidooie dat mense ’n veilige afstand moet handhaaf.

Mamre het intussen Saxonsea verbygesteek met die buurt met die meeste infeksies. Met 767 nuwe gevalle in Desember het Mamre die meeste nuwe gevalle gehad (133) en in die eerste week van Januarie het Mamre se positiewe gevalle van 355 tot 509 gegroei. Met ’n groei van meer as 100 nuwe gevalle vir Saxonsea, Mamre, Protea Park en Robinvale doen baie inwoners ook nie baie om getalle te probeer afkry nie.

Weskus Nuus het verskeie oproepe gekry waar inwoners kla oor die “superverspreider” wat self deur inwoners veroorsaak word.

Die onwettige danskompetisie waar geen Covid-protokol gegeld het nie, het baie inwoners omgekrap. Foto: Verskaf

Proporsionele raadslid Allister Lightburn het die organiseerders van ’n onlangse, onwettige danskompetisie gekritiseer omdat “hulle met mense se lewens speel”. Tydens dié kompetisie, wat Saterdag 16 Januarie sonder toestemming van die owerhede gehou is, het mense ook baie naby aanmekaar gestaan om ’n beter kykie van die aksie te kry.

Lightburn sê sulke optrede sal nie geduld word nie en organiseerders sal verantwoordelik gehou word. Weskus Nuus het die organiseerder van die kompetisie vir kommentaar genader, maar hy het geen kommentaar oor die aangeleentheid gelewer nie.

Die MyCiti-busdiens het ook onder kritiek van die publiek deurgeloop. Omgekrapte pendelaars meen busse word tans oorlaai. Weskus Nuus het gaan kyk of dit wel die geval is en is deur Lightburn op ’n rit vergesel, maar die bus was volgens regulasies binne die raamwerk gelaai. Volgens Felicity Purchase, burgemeesterskomiteelid van vervoer, mag busse en taxi’s wat minder as 200 km per rit aflê 100% gelaai word, wat staande passasiers insluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article