Advokate John van der Berg en Reuben Liddell en die prokureur Niel Slabber verteenwoordig die egpaar.Foto: Murphy Roberts


Die borgtogaansoek van ’n egpaar van Melkbosstrand het Woensdag (4 Desember) weer ’n wending geneem toe die staat ’n opname van ’n gesprek in die hof gespeel het wat beide beskuldigdes in trane gehad het.

Die egpaar, wat vroeër in November deur ’n spesiale eenheid van die polisie aangekeer is, se borgtogaansoek het reeds op Dinsdag 12 November begin.

Die egpaar, wat daarvan aangekla word dat hulle onder meer na bewering ’n vorige werknemer vir sewe maande teen haar wil as seksslaaf aangehou het, staar sowat 15 aanklagte in die gesig, wat verkragting, poging tot moord en mensehandel insluit.

Die verdediging het tydens die twee beskuldigdes se vorige verskyning ’n sekskontrak ingedien om te bewys dat daar geen verkragting plaasgevind het nie en voer ook aan dat die klaer vrylik saam met die egpaar na die buiteland gereis het.

Die egpaar het ook twee minderjarige kinders.

Adv. Evadne Kortje, die aanklaer, het egter die hof geruk met ’n stemopname en het ook ’n transkripsie van die opname ingedien. Hoewel die verdediging die egtheid van die opname betwis het, is dit deur die hof as bewysstuk aanvaar.

Die opname hou verband met ’n gesprek tussen die klaer, ’n kinderoppasser, die man en sy dogter, waarin hy die kinderoppasser gedreig het dat hy haar gaan vermoor en die enigste rede hoekom sy nog lewe is “omdat my dogter my gesmeek het om dit nie te doen nie”.

“Ek is die grassnyer en jy is die gras. Ek sien demone en is die seun van god. Demone is my speletjie. Ek verstaan demone. Ek ry demone soos weerlig,” dreig die man se stem op die opname.

Luidens die staat is die gesprek deur die klaer opgeneem.

Volgens een van die eerste verklarings wat in die hof voorgelees is, beweer die klaer dat die man haar sowel as sy eie kinders verkrag en mishandel het.

Die manlike beskuldigde beweer dat hul dogter deur ’n buurman in Doha, Katar, waarheen hulle vir werk gereis het, verkrag is en blameer die oppasser omdat sy die deur vir hom oopgemaak het.

Die oppasser ontken egter die beskuldigings teen haar en sy het reeds ’n leuenverklikker-toets wat daarmee verband hou, geslaag.

Die borgtogaansoek is tot 7 Januarie uitgestel. Die egpaar sal dus Kersfees en Nuwejaar agter tralies bly.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article