Plaaslike skole probeer die meeste van hul matrikulante kry om voor die eksamen hul entstof te laat kry, maar die getalle is maar klein, sê hoofde.
“Met tussen 40 en 50 leerders per skool wat reeds die entstof ontvang het, probeer ons as hoofde hard om almal oor die entstof ingelig te kry,” het een gesê.
Robinvale het op die skool se Facebookblad aangekondig die departement van onderwys moedig leerders aan om vir hul inenting te gaan. Die skole het ook gratis vervoer vir leerders aangebied en leerders van Robinvale het Donderdag 9 September die entstof in Mamre ontvang terwyl Saxonsea, Atlantis Sekondêr en Proteus ook reeds leerders geneem het.
Leerders het gesê hulle wil graag die entstof hê om hulself te beskerm.
“Baie negatiewe stories oor die entstof doen die rondes en leerders is bang. Ons hoop dat ander nou gaan sien dis veilig en ook vir die entstof sal wil gaan,” verduidelik die hoof. . Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) het die gebruik van die Pfizer-entstof vir kinders 12 jaar en ouer goedgekeur nadat nuwe inligting van die vervaardigers ontvang is.




