Tradisionele manlikheid vereis dat mans emosioneel sterk en gehard moet wees.

Hoewel baie mans by hierdie geslagsrolle baat vind, plaas dit tog onnodige verwagtinge op mans.

Hierdie verwagtinge kan hul lewe en dié rondom hulle negatief beïnvloed. In dié sin kan tradisionele manlikheid toksies raak.

By Cape Town Drug Counselling Centre (CTDCC) Atlantis, het ons opgelet wat die impak van tradisionele manlikheid op volwasse, sowel as adolessente mans is. ’n Simptoom van moontlike toksiese manlikheid is die huiwering om hulp te aanvaar.

Die hedendaagse gesegde som dié huiwering as volg op: “Elke man het sy trots.”

In hierdie geval kan trots tot gevaarlike uitkomstes lei.

Dit is soms moeilik vir mans om te aanvaar dat hulle wel afhanklik is van ondersteuning van gesondheidspersoneel, ondersteuningsgroepe en selfs familielede om te herstel.

Die eerste stap in die herstelproses is om te erken dat jou dwelmgebruik probleme in jou lewe veroorsaak.

Ons ervaar dit kan soms moeilik wees om te aanvaar dat die gebruik wel ’n probleem is.

Dit laat die gebruiker voel hy het as man gefaal, want die samelewing verwag “ ’n man is sterk” soos tradisionele manlikheid dit voorskryf. Selfs pa’s kan voel hulle faal hul kinders.

Ouer boeties kan voel hulle is nie ’n goeie rolmodel vir hul sibbe nie.

Dit veroorsaak ’n bose kringloop van tragedie waar manlike dwelmgebruikers hopeloos voel en dan weer gebruik. Hopeloosheid en magteloosheid gaan gepaard met mekaar – veral wanneer die manlike gebruiker soms gestremd is of selfs wanneer sy gesondheid verswak het.

Die manlike gebruiker word gereeld herinner aan die rolle wat hy nie meer vervul nie, soos om te werk. Tradisionele manlikheid verwag mans moet werk en na hul gesin omsien.

Wanneer hierdie verwagtinge nie nagekom word nie, kan dit lei tot ’n soeke na beheer, en dit word soms verkry deur dwelms te gebruik.

Die CTDCC-span sien gereeld mans wat met die siening “mans wat emosioneel is, is swak” worstel.

Daar is dan ’n huiwering van mans om emosies te deel en om te sê wat hulle pla.

Die gevolg is dat manlike gebruikers hul emosies onderdruk.

Dit dien dan as ’n moontlike “trigger” vir misbruik of veroorsaak selfs misverstande in die huishouding as gevolg van uitbarstings.

Hierdie gedrag kan ook deur groepsdruk – veral in die geval van adolessente – onder vriende en selfs die samelewing vererger word.

Mans kan soms verplig voel om dwelms te gebruik, omdat hul vriende gebruik of selfs begin gebruik as gevolg van kompetisie tussen vriende.

Hulle word dan ook uitgedaag met woorde soos “as jy nie gebruik nie is jy ’n sissie”.. Kontak gerus die Cape Town Drug Counselling Centre by 021 571 7180 vir verdere inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article