Dié groep vroue het Desember rondgehardloop nadat hulle die hele jaar getrou stamps betaal het, wat nooit tevoorskyn gekom het nie.Foto: Murphy Roberts


“Hy het misbruik gemaak van ons vriendskap en kom nou met verskillende verskonings, maar waar is ons Krismis-stamps?”

Só vra ’n groep inwoners van Atlantis, wat nog meer kwaad is omdat ’n pensioentrekker op Kersdag moes skarrel om iets op die tafel te sit.

Volgens Maria de Lillie (60) het sy elke maand R300 van haar pensioengeldjies afgeknyp om vir vleiskoepons te betaal. “Twee dae voor Kersfees en met niks in die yskas nie het ons elke dag ’n ander storie gehoor hoekom die stamps nie uitkom nie.

“Die man het eers gesê hy het twee doodgevalle in die familie; ’n dag later was hy Covid-positief, maar die stamps het net nie uitgekom nie,” vertel sy omgekrap.

Volgens De Lillie het haar seun sy motor verkoop om haar iets te gee sodat sy darem tong en soutvleis op die tafel kon sit. “Ons het hom gevra of die stamps ook Covid het, want hy kon dit mos met iemand stuur,” vertel sy. Sy sê sy moes R3 200 se stamps kry.

Volgens Desiree Deysel (36) van Saxon Sea het sy R9 200 se vleis en Shoprite-stamps deur die jaar betaal, maar sy het net R2 900 se stamps gekry. “Ek ken hom persoonlik en het elke maand R1 000 in sy rekening inbetaal,” sê sy.

“Die seerste van alles is almal wat by hom stamps gekoop het, ken hom, maar nou vertel hy elke dag ander stories.”

Dié 46-jarige man van Sherwoodpark het aan die ongelukkiges gesê hulle goed sal vroeg in Januarie “uitsorteer wees”, maar wou nie op Weskus Nuus se navrae reageer nadat hy glo aangeraai is om nie met die media te praat nie. Volgens Angela Donn van Robinvale het sy ook meer as R4 000 vir stamps opgedok, maar elke keer ’n ander verskoning gekry. “Hy het gesê hy wag vir ’n skoolhoof om die kluis oop te sluit aangesien die stamps veiliger daar sou wees,” verduidelik Don. Weskus Nuus het na dié hoof uitgereik, wat gal gebraak het en gesê het nie hy of sy skool weet van stamps nie. Weskus Nuus het by ’n betroubare bron verneem die man het ook stamps aan polisiebeamptes verkoop.

Kapt. Lisa Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het bevestig die man is aangekeer en klagtes van bedrog word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article