Lede van Survivors Haven Foundation het die slagoffer van ’n bylaanval Woensdag 8 September by die hof ondersteun.Foto: Murphy Roberts


“Ek kon net bid dat hy moet ophou, want ek wil gewis nie só ’n wrede dood sterf nie.”

Só sê ’n 45-jarige slagoffer van geslagsgeweld. Die slagoffer, ’n vrou wat nie identifiseer wil word nie, vertel die 25-jarige verdagte het haar met ’n byl gekap “soos een wat hout kap”.

“Ek het reeds Woensdagaand (25 Augustus) gelê toe ek so 22:00 hoor my hek word wild oopgeruk en sekondes later het ek glas hoor breek,” vertel sy.

“Ek het angsbevange opgespring vir skuiling, maar my voormalige loseerder het voor my met ’n byl in sy hand gestaan en met sy pieringgrootoë sonder enige woord in my rigting begin kap,” vertel sy.

“Ek het alles in my vermoë gedoen om die aanvaller te kalmeer en wou weet hoekom hy dit doen omdat ek niks aan hom gedoen het nie.”

Die verdagte het die slagoffer reeds verskeie kere raakgekap en haar kop oopgekloof toe hy eers begin praat het.

“Die siel sê ek krap sy lewe om met die liegstories wat ek blykbaar oor hom versprei. Ek het gesoebat dat ek niks weet van stories wat versprei word oor hom nie, maar hy wou my nie glo nie.”

Volgens die slagoffer het die man amper haar been morsaf gekap toe hulle gestoei en sy geval het.

Sy sê haar aanvaller en sy vriendin het sowat ’n jaar in haar agterplaas gewoon.

“Hulle het plek gesoek vir drie, maar ná ’n rukkie was hulle vyf en ek was ongelukkig daaroor en het gevra dat hulle eerder ander plek kry, waarna hulle in April getrek het,” verduidelik sy.

Die man het ná die aanval blykbaar ewe komkommerkoel uitgeloop en net gesê hy sal terugkom indien sy ’n saak sou maak.

Volgens Janine Passenz van die Survivors Haven Foundation word vroue wat beskerm moet word, eerder wreed deur ongevoelige mans aangerand.

Passenz en haar organisasie het die slagoffer bygestaan met berading en ook hul ondersteuning by die hof gewys.

Die verdagte het Woensdag 8 September in die hof verskyn op aanklag van poging tot moord en word aangehou tot sy borgaansoek Donderdag (16 September).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article