Die slagoffer van ’n bylaanval se agterkop is tydens die aanval oopgekloof.Foto: Verskaf


Emosioneel en met die wrede gebeure nog vars in haar geheue het die slagoffer van ’n bylaanval ná meer as drie jaar getuig nadat sy glo deur ’n man vir wie sy blyplek gegee het, in haar huis met ’n byl aangeval is.

Frank San Sousi (28) is kort ná die aanval in hegtenis geneem en het op 8 September die eerste keer in die hof verskyn.

San Sousi, wat op R2 000-borgtog vrygelaat is, het op al die aanklagte teen hom skuld ontken.

Die slagoffer, wat nie haar naam gepubliseer wil hê nie, het die hof die afgelope Woensdag (4 Desember) in detail vertel wat op die aand in Augustus 2021 gebeur het. “Ek het reeds die Woensdagaand (25 Augustus) gelê toe ek ongeveer 22:00 hoor my hek word wild oopgeruk en sekondes later het ek glas hoor breek,” het sy getuig.

“Ek het angsbevange opgespring vir skuiling, maar my voormalige loseerder het voor my met ’n byl in die hand gestaan en met sy pieringgroot oë het hy sonder enige woord in my rigting begin kap. Ek het alles in my vermoë gedoen om die kaphoue te vermy en wou weet hoekom hy dit doen omdat ek niks aan hom gedoen het nie,” het sy emosioneel getuig.

Volgens die slagoffer se getuienis het die verdagte vroeër blyplek vir hom, sy meisie en kind gesoek. “Ek het hulle blyplek in my agterplaas gegee, maar nie lank daarna nie sien ek nog mense bly by hulle. Ek het met hulle gepraat daaroor dat dit nie die ooreenkoms was nie en dat hulle eerder ander plek moet kry,” het sy aan die hof verduidelik.

Sy het kort ná die aanval destyds aan WeskusNuus gesê die verdagte het beweer “ek krap sy lewe om met die liegstories wat ek versprei”.

Die saak is tot 12 Februarie volgende jaar uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article