Die Mamre-vrouerugbyspan het hul voorseisoen met die Swartland-munisipaliteit se Burgemeesterstoernooi afgeskop.
Dié span het ’n uitnodiging van Harold Cleophas, die uitvoerende burgemeester van die Swartland, ontvang om aan dié jaarlikse sportfees, wat vanjaar by die Gabriel Pharoah-sportterrein in Darling plaasgevind het, deel te neem.
Dit was ’n uitstekende geleentheid vir Chowan Maarman en sy span om hul vaardighede te verfyn voordat die Boland-kompetisie in Maart afskop.
Die span is die afgelope paar weke besig met intensiewe oefeninge vir die 2025-vrouekompetisie en die jeugdige span van Maarman sal na verwagting weer goed presteer.
Mamre het saam met Darling, die Malmesbury Daisies en Moorreesburg die vierde vrouerugbyspan gevorm, wat in ’n verkorte 7’s-formaat meegeding het. Mamre het twee van hul groepwedstryde gewen en gelykop gespeel met die Malmesbury Daisies, wat ná ’n paar jaar na die Boland-vrouekompetisie terugkeer.
Mamre het in die eindstryd die Burgermeesterstrofee danksy kookwater rugby onoorwonne gebuit.
Die Daisies het in die eindstryd goed vertoon, maar teen Mamre se sterk verdediging gesukkel. Donique Jacobs het haar eerste drie van twee vir Mamre in die eerste helfte gedruk, gevolg deur ’n suksesvolle doelskop van Chante Jonathan, om die eerste helfte op 7-0 af te sluit.
Mamre het die wedstrydtempo in die tweede helfte gelig, wat tot Donique Jacobs se tweede drie gelei het en die laaste een deur Demi Gericke. Ten spyte van skewe doelskoppe deur Jonathan, het Mamre se sterk verdediging die Daisies punteloos gehou. Die Mamre-vrouespan het die Swartland-munisipaliteit se Burgemeesterstrofee met ’n 17-0-oorwinning beklink, wat ’n positiewe inspuiting vir die 2025-seisoen gestel het.
Ná afloop van die eindstryd het WeskusNuus ’n onderhoud met Maarman gevoer. Hy het sy dankbaarheid uitgespreek vir die spesiale uitnodiging, wat deur die burgemeester van die Swartland-munisipaliteit gerig is. “Ek is baie trots op die vroue, want hulle het getoon dat sukses haalbaar is wanneer ons op ons doelwitte konsentreer.
“Hoewel ons vroeër die jaar ’n paar spelers verloor het nadat hulle nuwe geleenthede gaan soek het, het die nuwelinge vinnig by die bestaande spanlede geïntegreer. Ek verwag dat 2025 ’n opwindende seisoen vir Mamre-vrouerugby sal inhou.”
“Met die Boland-vrouerugby-kompetisie, wat binnekort afskop, het ons die voorseisoense wedstryde broodnodig as ons in die seisoen suksesvol wil wees,” het Maarman gesê.
Demi Gericke is as die Vrouespeler van die Toernooi aangewys en het ’n trofee en R1 500 ontvang. Haar spanmaats Donique Jacobs en Chante Jonathan het elk R500 en ’n trofee ontvang – onderskeidelik as voorspeler en agterspeler van die toernooi.




