Mamre se vroue-rugbyspan het hul oog op die Boland stadion. Die vrouespan onder leiding van Kenny Stadler begin Saterdag hul uitspeelronde wanneer die Central Wolves in Mamre besoek aflê.
Mamre se vrouespan het tweede in hul groep geëindig nadat die span een wedstryd gewen en een verloor het asook ’n gelykopuitslag gehad het.
Volgens Stadler begin hul Wellington-drome reeds Saterdag wanneer hulle Central Wolves in Mamre in hul eerste uitspeelwedstryd pak voordat die span volgende week na die Weskus reis om die Weskus-span te takel.
Mamre se vroue sal dan hul laaste uitspeelwedstryd tuis teen Walkerbay speel en moet ten minste tweede eindig om hul bus na Wellington vir die halfeindronde van die Boland-vrouerugbykompetisie te bespreek. Met die mans wat vyf wedstryde in die top-12-uitspeelronde moet speel, speel die vroue spanne slegs drie.
Volgens Stadler is hy positief dat sy vroue die streek gaan trots maak en hulle benader nou elke wedstryd soos ’n halfeindronde. Die gesoute afrigter sê hy twyfel nie in sy span se selfvertroue om wel die halfeindronde te haal nie.
Die vrouespan, wat hul eerste ligawedstryd weg teen Central Wolves gelykop gespeel het, het Saterdag ’n gulde geleentheid om die bordjies te verhang. Mamre het daarna die Weskus-span in ’n tuiswedstryd 38-12 geklop, waarna die span in hul laaste ligawedstryd 0-70 teen Walkerbay vasgeval het.
Die halfeind- en eindronde van die vrouekampioenskap sal as voorwedstryde vir die Boland-klubkampioenskap dien.
Met die laaste ligawedstryd reeds vergete, fokus die span nou net op die wedstryde wat gewen moet word.
“Die span, wat nou eers hul tweede jaar as ’n eenheid nader, het die potensiaal om enige span op enige dag te klop,” het Stadler bygevoeg.





