Mamre het dinge Saterdag teen Wesbank vir homself moeilik gemaak toe hy die wedstryd op ’n skinkbord aan die tuisspan gegee het. Foto: Murphy Roberts


Mamre het Saterdag in sy tweede Top-12-wedstryd in Malmesbury teen die tuisspan, Wesbank, vasgeval.

Mamre, wat al die kanse in die wêreld gehad het om sy eerste oorwinning te behaal, se spel is egter “pateties” genoem en hy het “soos ’n derdeligaspan” gespeel.

Die groen truie van Kenny Stadler was rustyd nog 16-10 voor, maar die span se dissipline, te veel individuele pogings en die wil om te wen, het die span egter met 23-34 laat vasval.

Mamre het in die eerste helfte met die wind van agter die meeste balbesit en gebiedsvoordeel geniet.

Met vele kanse wat geskep is kon Mamre egter nie punte aanteken nie. Mamre, wat die wedstryd moes wen om sy kanse lewendig te hou, sal egter moet besin oor keuses wat op die veld gemaak is en wat die span meer punte kon besorg het. Met aanvallende spel het die span egter die bal op ’n skinkbord aan die tuisspan gegee.

Stadler se troepe kon ook nie lynstaanbesit verseker nie, wat dit nog moeiliker vir die span gemaak het.

Met die wind in Mamre se gesig in die tweede helfte het die tuisspan egter na ’n hoër rat oorgeskakel en die besoekers moes die meeste van die tyd in hul eie gebied speel.

Wesbank het baljaar met hope balbesit en gebiedsvoordeel en die besoekers se foute in punte omgeskep.

Mamre, die verdedigende Weskus-kampioen, het by tye soos ’n kampioenspan gespeel, maar die wil om te wen, het ontbreek. Die span se roekelose besluite sal ook nog lank by van die spelers spook. Mamre het met die horlosie wat einde se kant toe gestaan het, byna ’n haas uit die hoed gepluk toe hy nog die wedstryd dalk kon wen. Met die telling 29-23 in die tuisspan se guns en Mamre sterk op die aanval, was ’n oorwinning skielik moontlik. Die groen truie het die een ná die ander aanval weggestuur en tot diep in die tuisspan se kwartgebied gevorder.

Met die horlosie wat aanstap het die spelers egter kopgehou en die tuisspan tot die uiterste beproef. Wesbank het ook koelkop gebly en die besoekers met rotsvaste verdediging op die agtervoet gehou. Met speeltyd verstreke en die besoekers wat steeds poog om die tuisspan se verdedigingslinie te breek, het ’n algehele roekelose aangee in die hande van die tuisspan beland, wat die wedstryd met ’n onverdoelde drie verseël het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article