Mamre se gholfspan het sy Rival Cup-gholfkampioenskap suksesvol verdedig nadat geen wenner verlede jaar aangewys is nie.
Die kompetisie tussen die spanne van Mamre, Darling, Atlantis en Morning Star (Durbanville) is Vrydag 24 September in uitstekende weersomstandighede op die Porterville-gholfbaan beslis.
Volgens Pieter February, kaptein van die Mamre-span, is die naam van die kompetisie verander van Rival Cup na die Vernon Lewis Memorial Rival Cup uit eerbied aan die ontslape Vernon Lewis, stigterslid van die jaarlikse kompetisie.
Mamre het ná die eerste ronde, met die beslissing van die alternatiewe balspel-kompetisie (vierbal), die voortou geneem met 13,5 punte en sy een hand op die trofee, gevolg deur Darling met 12 punte, Atlantis met 6,5 punte en Morning Star met 4 punte.
Die enkelspelwedstryde in die middag het uitstekende gholf opgelewer, waar die spelers in ’n titaniese stryd teen mekaar gewikkel was om te bepaal wie met die kampioenskap gaan wegstap.
Atlantis het verbete in die enkelspelwedstryde teruggeveg, waar hy 25,5 punte vir ’n algehele telling van 32 uit ’n moontlike 54 punte, ingesamel het.
Dit was egter nie goed genoeg nie en Mamre het uiteindelik met 35 punte geëindig – vier meer as Atlantis.
Darling was derde met 16,5 punte en Morning Star in die vierde plek met 11 punte.
Die uitblinkers op die dag was Garth du Preez en Quewin Botha (Mamre) wat al hul wedstryde gewen en ses punte elk vir hul span ingebring het. Ander uitblinkers was Andrew Pienaar, Liam Adonis en Desmond November van Mamre en Nicky Arendse van Darling.
Quewin Botha en Liam Adonis is albei junior spelers wat in die SA Gholf-ontwikkelingsprogram deelneem, wat deur Shawn Conrad in die Atlantis-streek gekoördineer word.





