Mamre Primêr het met die skool se 30ste bestaansjaar verskillende geldinsamelings en byeenkomste gehou.
Een van die opwindendste was die Mnr. en Mej. Mamre Primêr senior en junior.
Die vorige Mej. Mamre Primêr, Kaylin Marcus, het haar kroon aan haar opvolger, Gaylin du Plessis, oorhandig. Marcus doen tans ’n modelkursus by die Figus- internasionale modelagentskap.
Figus het haar in 2022 gekies om Mej. SA 2021-’22 tydens ’n modelskou in Roodepoort, Johannesburg, te gaan ontmoet.
Volgens Marcus, ’n gr. 10-leerder by Saxonsea Sekondêr, is sy ’n modelloopbaan in New York aangebied, maar sy moes kies tussen haar skoolloopbaan en modelwerk.
“My skoolloopbaan het egter voorkeur gekry bo modelwerk. Vir my was dit ’n droom wat waar geword het, want ek het gedroom om eendag modelwerk oorsee te doen, maar het nie verwag dit sou op so ’n vroeë ouderdom gebeur nie.
“My matrieksertifikaat is vir my op die oomblik belangriker as modelwerk. Ek kan steeds ’n my modelloopbaan op ’n professionele manier voortsit nadat ek my matriekjaar in 2025 voltooi het,” het Marcus gesê.
Gaylin du Plessis is in die senior afdeling as Mej. Mamre Primêr aangewys, met Basildene Titus as die eerste prinses en Angiliano Davids as die tweede prinses.
Matthew Nortje is as Mnr. Mamre Primêr aangewys, gevolg deur Nathan Passens as eerste prins en Serginio Oliver as tweede prins.
In die junior afdeling is Lungisa Foto as Mnr. Mamre Primêr Junior gekroon, gevolg deur Noah Beukes (eerste prins) en Nicolai Cairncross (tweede prins). Kiara Daniel’s is as Mej. Mamre Primêr gekroon, met Miche April (eerste prinses) en Kichan van der Merwe (tweede prinses).
Giana Johannes is as Mej. Persoonlikheid aangewys.


