Mamre, wat hierdie rugbyseisoen in die Swart-Wes-streek van die Boland-Grootuitdaagbekerreeks speel, het Vrydagaand sy eerste voorbereidingswedstryd teen Young Hearts in Mamre met 29-26 gewen.
Die groen truie van Kenny Stadler, wat rustyd 12-14 agter was, het egter in die tweede helfte genoeg gedoen om die wedstryd te wen. Die wedstryd wat in ’n karnaval atmosfeer gespeel is, het nie die meer as 3 000 ondersteuners teleurgestel nie. Beide spanne, wat nog sukkel met eina spelers, het egter jong spelers speelkans gegee om aan die omstandighede gewoond te raak.
Die wedstryd, wat vol haakplekke was, en spelers wat gesukkel het om mekaar te vind, het by tye egter sprankelende rugby opgelewer. Die tuisspan het die ys gebreek met ’n verdoelde drie.
Die troepe van die Grafkelder het egter daarna ook ’n verdoelde drie behaal om sake gelyk te maak.
Mamre se dissipline het daarna gepla en die besoekers is met ’n strafdrie beloon en het die voortou geneem.
Young Hearts het egter die tuisspan verskeie kere met rotsvaste verdediging enkele sentimeter van die doellyn gekeer. Die twee spanne, wat ook die bal baie lug gegee het, het egter nooit geskroom om hul lywe op die spel te plaas nie. Die tweede helfte was ’n wipplankstryd en nie een van die twee spanne het oorheers nie.
Mamre het egter soos in die eerste helfte weer ’n verdoelde drie behaal en weer die voortou geneem. Vir die twee spanne, wat hul ondersteuners met aanvallende en hardloop-rugby laat brul het van die plesier, was dit aan die einde van die wedstryd hartseer dat daar ’n verloorder moes wees.
Young Hearts het ’n verdoelde en onverdoelde drie behaal terwyl die tuisspan nog ’n verdoelde drie en ’n strafskop behaal het.
Mamre, wat die OK Mamre-gemeenskaps-7’s-titel gewen het, het sy 7’s-seisoen op ’n laagtepunt afgesluit nadat hy in die Darling-7’s-toernooi in die eindronde deur die verdedigende kampioen, St. Georges, getroef is. Die groentruie het ook in die Wesbank-7’s tot in die halfeindstryd gevorder voordat hulle vasgeval het.
Vrienskaplike wedstryde Hamlets pak Vineyards Saterdag in Mamre waarna die span volgende week Wesbank in Malmesbury sal aandurf. Mamre pak ook SK Walmers die naweek in Mamre.
Atlantis begin sy voorbereiding op 28 Februarie met ’n wegwedstryd teen Mamre, waarna hulle ’n week later Hands and Hearts tuis sal pak. Young Hearts pak Mamre weer op 22 Februarie op die Grafkelder.





