Besluitneming, bottervingers en dissipline het Mamre Saterdag van ’n kosbare oorwinning in hul wegwedstryd teen Steenberg’s Cove in die Agterbaai beroof.
Die resultaat was ’n gelykopwedstryd met albei spanne wat met ’n telling van 38 elk geëindig het. Mamre, wat die wedstryd stadig begin het, het egter van die afskop af sy krag in die vasteskrums gewys.
Mamre, wat reeds vroeg in die wedstryd twee maklike strafskoppe gekry het, het albei skoppe misgeskop.
Met die oorhand in die vasteskrums kon die wedstryd dalk ’n ander wending neem indien die groen truie besluit het om eerder te skrum.
Met die rustydtelling 14 elk het die tuisspan ook gewys dat hy honger is vir ’n oorwinning.
Met beide spanne se dissipline wat in die tweede helfte gelol het, moes die skeidsregter drie geelkaarte in slegs drie minute wys, waarvan twee aan die tuisspan was.
Mamre het dit tot sy voordeel gebruik en het met ongeveer 10 minute oor gerieflik met 17 punte voorgeloop.
Kluts kwytgeraak
Die troepe van Kenny Stadler het met ’n oorwinning wat wink, egter die kluts heeltemal kwytgeraak. ’n Rooikaart wat Mamre in die 10de minuut gekry het, het die agterdeur vir die tuisspan wawyd oopgemaak.
Steenberg’s Cove het daarna die krane behoorlik oopgedraai en met sekondes oor in die hoekie oorgeval om sake gelyk te maak. Met die doelskop wat skeef was, kon die groen truie asem haal dat die stryd gelykop geëindig het. Young Hearts het in ’n wegwedstryd teen Velddrif 22-30 vasgeval.
Die nederlaag het die span van die grafkelder met een plek op die punteleer laat terugsak en die bult raak nou al steiler vir Mamre en Young Hearts om onder die voorstes te eindig.
Atlantis het sy goeie vorm voortgesit toe die span Eersterivier in ’n wegwedstryd 18-25 geklop het. Atlantis het met die oorwinning ook seker gemaak dat hy op koers is om die topses in die uitspeelrondes te haal.
Weskus
- Saldanha 65-26 Langebaan,
- Paternoster 18-10 St. Helena,
- Vredenburg 46-31 Hopefield,
- Steenberg’s Cove 38-38 Mamre
- Velddrif 30-22 Young Hearts
Swartland
- Abbotsdale 37-30 Porterville
- Wesbank 30-32 Never Despairs
- Darling 44-43 Goodhopes
- Moorreesburg 26-19 Villagers Wittewater
- Young Eagles 20-23 Saron





