Die Boland- groot uitdaag-rugbyliga het Saterdag afgeskop en nie juis baie verrassings opgelewer nie.
Mamre het op sy tuisveld die vissermanne uit St. Helenabaai ontvang en wonder seker steeds hoe hulle die wedstryd verloor het.
Mamre, wat as een van die gunstelinge beskou word, het ’n goeie voorseisoen gehad en het byna al hul vriendskaplike wedstryde gewen.
Die groen truie het met 18-20 vasgeval nadat hulle rustyd nog 18-10 voor was.
Die tuisspan, wat verskeie kanse verbrou het om punte aan te teken, het ook verskeie kere tot by die besoekers se doellyn gevorder – net om die bal te verloor of weens swak dissipline besit omgekeer.
Wat egter steeds by baie ondersteuners spook, is dat Mamre, wat met ongeveer vyf minute oor en die telling 18-20, ’n strafskop vlak voor die pale gekry het, maar besluit het om nie die drie punte te vat nie en eerder te skrum.
Mamre kon egter nie afrond nie, al het hy nog twee strafskoppe afgedwing en elke keer besluit het om weer te skrum. Met die tyd wat aangestap het, het die tuisspan uiteindelik besit verloor en so ook die wedstryd.
Die besoekers het die tuisspan egter reeds vroeg in die wedstryd geskud met ’n verdoelde drie. Mamre het egter kort daarna sy neus voor gekry met ’n strafskop en ’n verdoelde drie.
Met die wind agter hul blaaie het die tuisspan dit tot hul voordeel gebruik en nog ’n onverdoelde drie en ’n strafskop behaal om teen rustyd gemaklik voor te wees. Die tuisspan het egter in die tweede helfte met die wind in die gesig gesukkel en kon ook nie met lynskoppe veld wen nie.
Die besoekers het koelkop gebly en die wedstryd met ’n verdoelde drie en strafskop verseël.
Mamre reis eerskomende naweek na Paternoster.
Young Hearts het Saterdag in sy eerste wedstryd gewys hy kan nie ligtelik opgeneem word nie toe die span van Ruben Abels Paternoster maklik 46-13 geklop het. Young Hearts reis die naweek na Piketberg, waar die span op sy eerste wedstryd sal wil voortbou.




