Die Mamre-krieketklub het nou wel nie sy seisoen op ’n baie hoë noot afgesluit nie, maar is tevrede met sy vertoning.
Volgens Dillon Liedeman, die klub se kaptein, kon hulle maklik tweede geëindig het as ’n paar wedstryde dalk in hul guns geswaai het.
Volgens die kaptein het Mamre die seisoen vierde op die punteleer afgesluit – baie beter as verlede jaar se sewende plek. Die kolwers het ook bestendig gevaar en die span het vier honderdtalle aangeteken, met Duwayne Cupido wat dit twee keer reggekry het. Elton Vlotman en die kaptein het ook hul deel gedoen met ’n honderdtal elk, terwyl die boulers ook hul deel gedoen het.
Mamre, wat in die WP se tweede liga speel, se hoop op bevordering was egter in sy eie hande, maar “met ’n uitslag of twee wat dalk ons kant toe kon swaai”, het egter ’n demper op die span se bevordering gehad.
Liedeman, wat sy veelsydigheid hierdie seisoen bewys het, was ook een van die spelers wat soos Hilton Zibeon en Elvino Schippers vyf of meer paaltjies in ’n wedstryd geneem het.
“Ons het nie al ons kanse gebruik nie, maar die wedstryd teen Varsity College in Mamre kon dalk die kaarte deurmekaargekrap het omdat hulle die ligavoorlopers was en ons ná drie wedstryde nog onoorwonne was.
“Die ligakampioen het ons op sy tuisveld ’n krieketles geleer. Ons was so naby om die bordjies te verhang, maar kon nie die uitklophou plant nie.
“Met die verandering in die span se gees hierdie seisoen kan volgende jaar net beter en beter vir die Mamre Hawks wees,” sluit die kaptein af.




