Keagan Johannes, ’n trotse boorling van Mamre, het Saterdag 6 November met ’n breë glimlag met sy vierde goue medalje op senior vlak in rugby op Loftus Versfeld rondgestap.
Dié 22-jarige skrumskakel van die Bulls het twee drieë in die Carling Champions-uitsoekspan se wegholsege van 85-17 oor Kenia gedruk.
’n Rapsie meer as 1 000 toeskouers het in Johannes se triomf gedeel.
Dit was die eerste keer dat toeskouers in ’n stadion in die land toegelaat is sedert die Covid-19-pandemie in 2019 uitgebreek het. Die Champions-span, wat deur Jake White afgerig, maar deur die publiek gekies is, het 13 drieë teen die entoesiastiese besoekers gedruk.
Johannes het as lid van die Bulls se suksesvolle o.21-span twee goue medaljes verower. Hy het dit opgevolg met nog ’n goue as lid van die Bulls se Curriebeker-sukses.
“Dit was great. Vir my was dit ’n groot oomblik net om te kon speel en my te kon uitleef. Coach White het ons vrye teuels gegee om ons vaardighede uit te leef,” vertel hy.
“As in ag geneem word dat ons net twee dae as ’n span saam was, het ons baie goed gevaar,” het hy aangesê.
Johannes het bygevoeg hy glo hy is nie ver daarvan om hom permanent in die Bulls se span te vestig nie.
“Kyk, ek ag myself as die derde keuse op die oomblik. Maar soos dinge staan, gaan dit alles oor harde werk en om die beste van jou kanse te maak – soos in die Carling Champions-reeks,” het hy verduidelik.
White het ná die wedstryd gesê hy was beïndruk met die spelers se commitment. Hy het SA Rugby en die borge geloof vir die innoverende kompetisie. “Ons (borge/SA Rugby) moet die konsep van die kompetisie na die volgende vlak neem,” het hy gesê.




