Mamre se sewesspan het goed die afgelope naweek in Malmesbury gevaar by die Wesbank-sewestoernooi.Foto: Jaco Oppelt


Mamre-rugbyklub en Young Hearts van Pella het die afgelope naweek goeie rekenskap van hulself by die Spar Wesbank-sewesrugbytoernooi in Malmesbury gegee.

Dié jaarlikse toernooi is een van die bestes van sy soort in die streek. Mamre het die hoogaangeskrewe en uiteindelike wenner, St. George’s, met 17-5 in sy eerste groepwedstryd geklop. Die groen truie het daarna voortgebou en Velddrif met 38-5 geklop.

Vredenburg was volgende aan die beurt en die Burg Boys is met 24-15 getroef vir ’n plek in die top-16. Mamre het egter naelskraap met 12-14 teen Roses van Wellington vir ’n plek in die kwarteindstryd vasgeval.

Young Hearts het in sy eerste wedstryd teen die kampioenspan van Pretoria (Harlequins) met 14-24 vasgeval. Die span van Reuben Abels het egter daarna die verloor goed verwerk en Moorreesburg met 26-12 getroef.

In ’n moet-wen-wedstryd teen Abbotsdale se Lillies het Young Hearts se krygers ware karakter en veggees getoon en Lillies met 14-12 gewen om sy plek in die top-16 te bespreek.

Abels en sy troepe het daarna hul plek in die laaste agt bespreek toe Montagu met 7-14 die knie moes buig.

Young Hearts het daarna teen St. George’s in die kwarteindstryd met 0-15 vasgeval.

Young Hearts het egter in die plaathalfeindstryd Calvinia se Falcons met 40-12 geklop en in die eindstryd naelskraap teen Robertson Town met 21-24 verloor.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article