Mamre het Saterdag (4 Februarie) in Darling bewys hy is die darling van 7’s-rugby toe die span van Kenny Stadler in sy vierde agtereenvolgende eindronde gespeel en sy derde titel gewen het.
Die groen truie van Mamre het Young Hearts van Pella 12-7 in die eindstryd geklop.
Dié twee spanne, wat hul groepwedstryde onoorwonne afgesluit het, het reeds vroeg hul merk gemaak. Young Hearts, wat in sy eerste kompetisie gespeel het, het vroeg die Tiere van Malmesbury se stert met ’n 24-0-oorwinning geknoop terwyl Mamre die Blue Stars 20-0 geklop het.
Mamre het daarna in sy tweede wedstryd korte mette met St.Helenabaai se naasbestes gemaak (43-0) terwyl die span van die grafkelder Young Peoples se naasbestes 33-5 begrawe het.
Met die seuns wat in die laaste 16 uitspeelwedstryde van die manne geskei is, het eers Young Hearts 21-12 teen Moorreesburg geseëvier terwyl Mamre die voormalige kampioene Hand and Hearts 10-5 geklop het.
Young Hearts het Langebaan 26-0 geklop terwyl Mamre die Burgboys in die halfeindronde vir ’n derde plek met 29-22 huiswaarts laat keer het. Young Hearts het egter die harde gelykopwedstryd teen St. Helenabaai 19-12 gewen vir ’n plek in die eindronde.
Mamre het daarna ook sy hand op die trofee geplaas met ’n 14-0-oorwinning oor die All Saints.
Die tafel was gedek vir ’n rillerstryd tussen die twee buurspanne. Mamre het egter koelkop gebly en gewys hy het die temperament om enige span te klop. Mamre het die opwindende eindstryd 12-7 gewen en sy derde titel beklink.
Met die Boland-rugby- kompetisie wat in Maart begin, sal die 15-man-kode vir eers al die aandag geniet.
Mamre pak Good Hopes Saterdag (18 Februarie) in ’n vriendskaplike wegwedstryd. Die span sal daarna in twee tuiswedstryde in aksie wees teen eers Moorreesburg en daarna Hillcrest.
Young Hearts sal vyf agtereenvolgende tuiswedstryde op die grafkelder speel. Die span van Ruben Abels pak Steenberg Cove ook Saterdag, waarna Koringberg, Abbotsdale, Hamlets en Atlantis die grafkelder sal besoek.
Die Atlantis-rugbyklub, wat deesdae ’n nuwe afrigterskorps het, begin sy voorbereiding vir die nuwe seisoen met ’n vriendskaplike wedstryd teen Fisantekraal tuis op 25 Februarie. Die span pak Moorreesburg daarna in ’n wegwedstryd, waarna Morningstar tuis volg voordat die span die grafkelder daarna besoek. Hamlets het teen druktyd nie reageer oor hul vriendskaplike wedstryde nie en die enigste wedstryd wat wel bevestig is, is op 11 Maart teen Young Hearts.





