Hy was die ysbreker in die klas en kon vinnig die atmosfeer in die klaskamer verander.
Só het die onderwyser Fred Sambaba die jong Marklin Syme by sy roudiens beskryf.
Emosionele klasmaats meen die klas gaan nooit weer dieselfde wees nie.
Marklin (15) was deel van die Tik Tok-sensasie Mamre Boyz. Dié groep jongmanne se komedievideos is baie gewild op die sosiale platform waar enigeen kortvideos kan oplaai.
Marklin is Saterdag 12 Junie vermoor toe die groep op pad na ’n partytjie was om jong mense te vermaak.
Volgens lede van Mamre Boyz het hulle lekker geloop en grappe beplan toe twee mans met ’n gevaarlike hond hulle genader en die hond agter die groep aan losgelaat is. Marklin, of “Mr Right”, soos hy bekend staan, is met ’n baksteen teen die kop geslaan toe hy hom teen die aanvallers verset het, en is op die toneel dood.
Huldeblyke het van oral ingestroom vir die geliefde “Mr Right”. Reuben Abels, sy skoolhoof, het by die skool se roudiens gesê Marklin wou nie baie weet van sport nie, en het altyd net gesê hy wil mense met sy rymkletstalent vermaak.
Honderde motors, motorfietse, perderuiters en inwoners het hul laaste eer aan Marklin in ’n blomme-verbyry-stoet voor sy begrafnis Sondag 20 Junie vereer.
Volgens Envor van Staden, die leier van Mamre Boyz, laat Marklin se dood groot leemte in die groep, hoewel hulle sal voortgaan om hul volgelinge te vermaak. Volgens Envor groei die groep se volgelinge daagliks en Marklin het ’n groot bydrae daartoe gelewer danksy sy sprankelende persoonlikheid.
Warren Daniels (28) het Maandag 21 Junie in die hof verskyn op aanklag van moord in verband met Marklin se dood, en is op R2 000 borgtog vrygelaat. Daniels verskyn weer op 23 Augustus in die hof.


