Wilbur Kraak, ’n boorling van Mamre, se skielike dood het sportgemeenskappe dwarsoor die land geskok gelaat. Foto: Verskaf


Die skielike dood van prof. Wilbur Kraak van Mamre het die sportgemeenskap oor die land heen geskok. Kraak (40) is Saterdag skielik dood en was ten tye van sy dood ’n professor in sportwetenskap by die Universiteit van die Wes-kaap.

Medelye van oral in die land het op Kraak se sosialemediabladsy hulde gebring aan dié boorling van Mamre.

Kraak, wat baie passievol oor sy beroep was, het ook sy eie afrigtingskliniek begin waarby verskeie plaaslike afrigters betrokke was. Kraak het altyd die ekstra myl vir ander geloop en was ook ’n sportprestasie-konsultant, lewensafrigter en rugbyontleder.

Volgens prof. Barry Andrews, ’n kollega, het Kraak in sy kort tydjie by die universiteit ’n groot invloed gehad en baie se lewe geraak. Andrews sê Kraak het in die laaste termyn van 2023 by die universiteit aangesluit. “Hy het só baie van sy vrye tyd as vrywillige by die universiteit se sportadministrasie opgeoffer om sportklubs te help en het gou ’n ambassadeur van die instelling geword,” het Andrews gesê.

Volgens die UWK se verklaring het Kraak ook uitgeblink in navorsing en onderrig van sport en slypskole binne die fakulteit van gemeenskaps- en gesondheidswetenskappe sowel as internasionaal aangebied. Plaaslike rugbyklubs het ook hul waardering vir sy bydrae tot die sport erken.

Kraak laat sy vrou en twee kinders agter. Geen begrafnisreëlings was teen druktyd bekend nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article