Augustine Saayman het die hof gevra om die swaarste moontlike straf aan haar kind se moordenaar te gee. Foto: Murphy Roberts


“Hy moet suffer soos my kind ge-suffer het. Ek smeek die hof om die beskuldigde die swaarste moontlike straf op te lê.”

Só het Augustine Saayman, ma van die vermoorde Ashwin Saayman, Dinsdag 12 November aan die hof gevra.

Saayman het getuig ter verswarende straf vir die beskuldigde, Myron Cruz, wat in September skuldig bevind is aan dié moord.

Dié voorval het in Desember 2016 in Mamre se hoofstraat plaasgevind waar Cruz vir Saayman glo byna 400 m na sy dood gesleep het.

Cruz het in die verhoor getuig dat hy nie die oorledene gesleep het nie, maar dat hy self aan die motor vasgeklou het met ’n mes in die hand. Twee getuies het egter getuig dat die beskuldige wel die oorledene vasgehou het. Cruz het ook later sy getuienis verander en gesê hy het nie ’n mes gesien nie.

’n Emosionele Saayman het aan die hof verduidelik hoe wreed haar kind gesterf het en sê die getuies moes sielkundige berading kry.

“Ek kan nie die beeld van hoe my kind gelyk het, vergeet nie, u edele,” het sy aan die hof gesê. “Tot sy toonnaels was weggeskeur. Sy liggaam se vel was ook afgeskeur.”

Saayman sê haar kleinkind vra daagliks na haar pa en hulle moes haar die waarheid vertel.

“Soos hy nie genade aan my kind getoon het nie, vra ek die hof om ook geen genade aan my kind se moorde­naar te toon nie.”

Saayman het haar getuienis afgesluit deur vir die hof te sê dat die beskuldige nooit berou getoon het of selfs gesê het hy is jammer nie. “Dit sou baie vir my beteken.”

Cruz se lot word Maandag 25 November bepaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article