Suid-Afrikaners word toenemend met aanlyn en telefoniese slenters gevang.
Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het benadruk dat vele inwoners al derduisende rande kwyt is omdat hulle swendelaars toegang tot persoonlike inligting gee.
“Mense kan nie een dag sonder hul selfone oorleef nie, maar hul kosbare fone kan ook hul grootste vyand word, aangesien bedrieërs kreatief is én gretig is om ander se geld in die hande te kry,” het sy benadruk.
Om swaarverdiende geld teen genadelose misdadigers te beskerm, vestig Helfrich lesers se aandag op die volgende:. Bankinstellings stuur slegs boodskappe oor banktransaksies soos geld wat in of uit jou bankrekening gaan. Soms stuur hulle inligting oor nuwe produkte om jou te help om jou geld beter te bestuur.. Bankinstellings se bedrogafdelings sal nooit hul kliënte bel nie, want hulle het nie die magtiging om dit te doen nie. As iemand jou skakel en hulself voorstel as ’n werknemer van die bedrogafdeling, beëindig die oproep onmiddellik.. As jy wel onreëlmatighede vermoed, doen navraag by jou bank voordat jy jou tot enigiets verbind, óf geld oorbetaal.. Moenie die instruksies volg wat ’n sogenaamde bankbeampte aan jou verskaf, soos om ’n skakel oop te maak of jou geld na ’n ander rekening oor te plaas nie. Beëindig die gesprek en meld die voorval veiligheidshalwe by jou bank aan.. Moenie rekeninginligting per telefoon of e-pos gee nie. Geen bank sal ’n kliënt bel of e-pos stuur om rekeningnommers, OTP-nommers, PIN-nommers of wagwoorde te versoek nie.. Hou altyd boek van transaksies in jou bankrekening.. As enigiets verkeerd loop met jou kaart of transaksie terwyl jy ’n OTM gebruik, kanselleer jou kaart by die bank (telefonies) en moenie die OTM verlaat voordat jy dit gedoen het nie.. Wees versigtig vir sosialemedia-advertensies; tref eerder reëlings met die koper of verkoper oor die betaling en aflewering van die produk om die transaksie te verseker. Moenie oorhaastig wees en geld deponeer sonder amptelike bewyse dat die produk werklik bestaan nie. As die verkoper en ook die koper ernstig is oor die transaksie, moet ’n gemeenskaplike ooreenkoms bereik word.. Moet onder geen omstandighede geld deponeer wanneer jy vir ’n werk of om ’n lening aansoek doen nie. Dit is swendelary.




