Hoewel die stadsvaders glo niks was verkeerd met die manier waarop raadslid Nora Grose haar wyk se Covid-19-verligtingsprogram bestuur het nie, het die Life Changers-kerk geld aan die Stad terugbetaal.
Volgens ’n betroubare bron sal die terugbetaling egter nie tot versagtende omstandighede lei nie, omdat dit die Valke se mandaat is om die geld terug te kry.
Die geld – net minder as R172 000 – is verlede jaar in opdrag van Grose, subraad 1-voorsitter, aan Life Changers oorbetaal nadat dié organisasie nie aan die Stad se vereistes voldoen het. Sarco, ’n plaaslike organisasie, is vermoedelik gebruik om die geld te bekom.
Die drama het ontvou toe Sarco vir ’n afsonderlike geval ondersoek is. Die organisasie is daarvan verdink dat dit spookwerkers geregistreer om TERS-geld van die departement van arbeid te eis. Die Valke het in hierdie ondersoek teen Sarco op die omstrede transaksie tussen die organisasie en die kerk afgekom.
Grose het haar verlede maand na aanleiding van die transaksie aan die polisie oorgegee. Sy staar nou klagtes van bedrog en geldwassery in die gesig.
Ná Grose se eerste hofverskyning het Dan Plato, die burgemeester van Kaapstad, in ’n verklaring gesê Brett Herron, sekretaris-generaal van GOOD, versprei misleidende inligting oor die aangeleentheid.
Plato het intussen ook op televisie ontken dat enige strafregtelike ondersoek gedoen word aangesien 100% van die geld vir die doel aangewend en geoudit is.
Grose het Vrydag 25 Junie weer in die plaaslike hof verskyn en moet weer op 30 Julie in die hof wees.
Volgens Herron moet Plato verduidelik hoekom Grose in die hof is aangesien hy enige strafregtelike ondersoek ontken.
“Indien die Stad se Covid-19-verligtingsprogram vir kospakkies deur alle raadslede vir dié doel aangewend is, hoekom het die kerk die geld terugbetaal? Wat het van die res van die geld geword?
“Is dit ook net toeval dat Plato se veldtog vir metro-voorsitter by dieselfde kerk was ’n maand nadat die geld oorbetaal is?” vra Herron.





