“Moet nooit toelaat dat jou omstandighede jou onderkry nie.”

Shannon Stoffels (19) van die Klein Dassenbergrylaan-plakkerskamp het haar klein gemeenskap trots gemaak toe sy die beste slaagsyfer van al die dorp se 2023-matrikulante behaal het.

“Baie aande wat daar niks op die tafel was om te eet nie, het my net verder gemotiveer,” vertel dié slimkop oor wat haar gedryf het tydens verlede jaar se eksamen vir die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS). Sy het aan Saxonsea Sekondêr matrikuleer en haar eksamen met 79,2% geslaag.

Shannon, wat vanjaar menslike hulpbronne aan die Universiteit Stellenbosch studeer, is deur die ander inwoners van die buurt die “lelie van die duine” gedoop – dít omdat die plakkerskamp waar hulle woon, tussen Atlantis se bekende duine is.

“Dit was baie moeilik,” vertel sy, “veral omdat hier geen elektrisiteit is nie en ek moes baie nagte met net ’n kers vir lig studeer, maar die opvoeders by die skool het ook baie gehelp deur vir my LED-ligte te gee. Ek moes die ligte dan by die skool laai. Ek hoop my deursettingsvermoë kan as ’n boodskap aan baie ander kinders dien – dat jy nooit moet opgee nie en eerder harder moet werk,” vertel sy.

Weskus Nuus het Shannon en haar gesin by hul woning besoek. In daardie stadium was die slimkop onbewus dat sy die slimste in Atlantis is, maar die nuus het soos ’n veldbrand in die buurt versprei en gou-gou het die bure om die top leerder saamgedrom en haar toegejuig.

Inwoners sê Shannon se prestasie beteken gewis baie vir hulle almal veral omdat mense hul neuse optrek vir inwoners van dié buurt.

Juliana Scheepers, die “lelie van die duine” se ma, sê haar kind se uitslae en die feit dat sy die beste van al Atlantis se matrikulante gevaar het, is bewys dat harde werk lonend is.

“My kind het klokslag soggens voor 07:00 uit die huis skool toe gestap – of dit reën, die son skyn of donderstorms daar buite was,” vertel sy trots.

“Ek het baie nagte met haar gesit en my kind jammer gekry – veral in die winter. Ons het besef slegs harde werk en haar deursettingsvermoë sal die beste uit haar bring,” sê Juliana.

Leerders van die informele nedersetting vertel Shannon is hul rolmodel en hulle sal gewis probeer om haar skoene vol te staan omdat hulle almal ook “lelies van die duine” is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article