Faizel Hendricks luister aandagtig terwyl sy broer Abdurauf (regs) verduidelik wat verkeerd geloop het met die mense se lekkergoedpakke.Foto: Murphy Roberts


Dit blyk of die kanse skraal is vir die byna 300 mense om hul geld terug te kry vir die lekkergoed-geskenkpakke wat hulle verlede jaar gekoop het.

Die broers, Faizel en Abdurauf Hen­dricks, maak glo weer leë beloftes na­dat hulle hand en tand belowe het kliënte sal teen 25 Januarie hul geld óf lekkernye kry. Dié twee het na bewe­ring meer as R250 000 ontvang van mense wat lekkergoed-geskenkpakke gekoop het.

Die Hendrickse het aan Weskus Nuus gesê hulle doen alles in hul vermoë om die mense se geld terug te kry. “Ons het niks nie. Ons het ’n saak teen die mense wat ons geld skuld aanhangig gemaak,” het hulle in ’n WhatsApp-boodskap gesê. Die twee beweer hulle moes tot skoene en selfone leen om kontak met mense te kan maak.

Kopers meen egter dis alles net leuens. “Hulle lieg,” sê Lee-Ann Abra­hams van Protea Park wat kliënte vir die Hendrickse gewerf het. “Hulle is dan vennote in twee weg­neem­eetplekke en het beslis geld,” meen sy.

Volgens Abrahams, wat meer as 20 geskenkpakke bestel het, was die pak­kies wat sy wel ontvang het vol goed­koop aanmaakkoeldrank en Bubbles. Die broers het glo dié lekkergoed kom haal toe sy by die werk was.

Ander ongelukkige kliënte vertel ook hulle is nooit deur die broers gekontak nie. Diegene wat met Weskus Nuus gesels het meen dit is ’n groot bedrag geld en is dit eens dat hulle liewer hul geld wil terughê.

Kliënte meen as die twee ernstig is, sal hulle selfs die geld afbetaal. “Hulle het hier en daar vir mense wat hulle ken pakkies afgelewer, maar meeste van die mense het geweier om die goedkoop lekkergoedpakke in ontvangs te neem.” Die Hendrickse sê hulle sal kliënte laat weet wanneer alles uitgesorteer is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article