Leerders van Atlantis Sekondêr het Donderdag 24 Februarie ’n verrassende besoek van die teen-bende-eenheid en metropolisie se honde-eenheid ontvang.
Dié besoek was nadat ’n video van ’n bakleiery wyd die vorige dag op sosiale media versprei is. Op die video kan duidelik gehoor word hoe leerders die bakleiers aanmoedig. Vir onderwysers wat keelvol van die leerders se optrede is, was dit die laaste strooi, sê Fabian Williams, die voorsitter van die skool se beheerliggaam.
Williams het ’n week voor die voorval in ’n ope brief aan ouers gesê sedert die begin van die skooljaar het geweld by skole aansienlik toegeneem. Hy sê hy het baie van die voorvalle persoonlik aanskou en het ouers gemaan dat die skool se gedragskode tot die letter toegepas gaan word.
Melanie Adonis, die waarnemende skoolhoof, het leerders in ’n emosionele boodskap geroskam. Sy het leerders gewaarsku die skool sal “teruggevat” word. “Julle is hier vir onderrig en verhinder diegene wat iets uit hul lewe wil maak. Van nou sal geen selfone meer op die skoolperseel toegelaat word nie,” het sy gesê.
Selfone sal op ’n no date basis in die kluis gebêre word, en wanneer dit teruggegee word, sal ’n stewige boete betaalbaar wees, het sy verduidelik. Sy het leerders gemaan geen gewelddadige gedrag sal langer by die skool geduld word nie.
Lede van die teen-bende-eenheid het leerders tydens hul besoek gevra om alles onwettig en alle skerp wapens vrywilliglik te oorhandig voordat die snuffelhonde losgelaat sou word.
Leerders het van ’n passer tot ’n slagmes ingehandig.
Geen dwelms is oorhandig nie, maar die honde het dagga en daggasigarette by twee leerders gekry.
Leerders kan hulle glo voorberei vir gereelde besoeke en zero tolerance.
Baie leerders het hande geklap toe die snuffelhonde die dwelms uitruik en ook toe die jongmanne hul wapens ingehandig het. Volgens kaptein Lisa Munro, plaaslike polisiewoordvoerder, sal sulke optredes na ander skole in die gebied uitgebrei word.
Intussen het nog ’n skoolhoof ’n brief aan die departement van onderwys gestuur oor die voortslepende bendegeweld naby dié skool. Verskeie nieregeringsorganisasies en die polisie het leerders oor dwelmmisbruik en geslagsgeweld toegespreek. Volgens Munro is ammunisie by ’n leerder in ’n opvolgoptrede by ’n ander skool gekry.





