Moderne skoolonderrig word meer deur leerders waardeer, want hulle ontvang nie net basiese onderrig nie, maar geniet dit ook omdat onderwysers omgee.

’n Toergroep, bestaande uit vier leerders en twee onderwysers van die Atlantis Vaardigheidskool, het die onlangse Oktober-skoolvakansie België besoek om meer oor dié land se opvoeding en kultuur te leer. Die toergroep het onder meer ook na Amsterdam (Nederland), Parys (Frankryk) en Doha (Katar) gereis om meer oor hul kulture te leer.

Vir Eathan Arendse en Calum Africa was dit besonders want dit was die eerste keer dat hulle Suid-Afrika verlaat het om ’n ander land te besoek.

“Dit is verbasend om te besef hoe min ons as kinders werklik van ander [lande] en hul kultuur weet.”

“Ons is regtig bevoorreg om as Suid-Afrikaanse leerders die kans te kry om Europese lande te besoek en om ons te vergewis van hul omstandighede en veral hul skool kurrikulum,” het Arendse en Afrika gesê.

Die seuns was baie beïndruk met die hoë standaard onderrig, want hulle is dit nie in Suid Afrika gewoond nie.

“Hulle was ook baie gretig om elke dag by die verskillende lokale aan te meld net om meer te leer oor Belgiërs,” het Zhanley Sauls, een van die onderwysers wat saam was, gesê.

WeskusNuus het ná hul terugkeer met die toergroep gesels, en die vier seuns kon nie uitgepraat raak oor hul ervaring nie. Volgens die seuns is dit gewis iets goeds om vroeër te ervaar, want dit kan jou loopbaan vorentoe net positief beïnvloed.

Volges Sauls gaan dit ’n jaarlikse instelling word tussen Atlantis Vaardigheidskool en verskillende skole in België en selfs ander Europese skole om studente uit te ruil om meer oor mekaar se kulture en onderrig te leer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article